News

Dorp se hangbrug ‘n besoek die moeite werd

Fotoraam en slotalternatief by dié brug kom binnekort.

Of jy al by dié prag toerismejuweel in die Vrystaatse dorpie Parys was, of nog nooit ‘n foto by dié besondere brug oor die Vaalrivier kon neem nie – hier is nou jou kans om te gaan kyk hoe mooi die brug gemaak is.

Die hele brug is oorgeverf, die gehawende draad weerskante van die loopvlak van die brug is vervang, die rivieroewer skoongemaak, skade herstel aan die oewerwal wat vroeër vanjaar aangerig is deur die Vaal se vloedwater, en selfs die straatname op die sypaadjies in die omgewing van die hangbrug, is netjies oorgedoen.

Wat meer is – hier kom ‘n groot fotoraam spesiaal vir toeriste om ‘n foto met die brug in die agtergrond te kan neem, asook ‘n alternatief waar mense soos die gebruik vir jare was, ‘n slot sal kan hang, asook plaveisel om die brug.

Die slotte wat vroeër aan die draad en kabels van die brug gehang is, moes die afgelope weke verwyder word om die draad te kon vervang wat ‘n veiligheidsrisiko geword het vir die talle voetgangers wat hier oor die brug beweeg wat juis ‘n besoek aan die brug iets besonders maak.

Die gewig van die slotte het boonop ook ‘n probleem geword. Die totale gewig van die slotte wat verwyder is, was alreeds ‘n ongelooflike 726,8kg, en loop tyd nou uit vir mense wat slotte aan die brug gehad het, om die slotte wat verwyder is te gaan afhaal by Jacks Paint in Parys. Die slotte sal net vir ‘n beperkte tyd gebêre word.

Die werk wat by die hangbrug gedoen is, sal met voltooiing van die projek R250 000 beloop.

‘n Projek wat nie moontlik sou wees sonder die ongelooflike inisiatief wat ‘n inwoner, Stephanie Fourie, geneem het toe sy besluit het om die enorme taak aan te pakom die toerismejuweel weer veilig en netjies te kry vir die talle besoekers wat veral oor naweke na die dorp stroom.

Haar ywer en volharding is ondersteun deur die borge, Jacks Paint, Africa Pro & Pro Signs, Parys Golf & Country Estate, FS Fensing Products, Nako Maintenance, Jimmy Jaggers, Van Niekerk Broers en Coastal Hire.

Die span wat baie hard gewerk het om die opknappingswerk te doen, was  Mike en Stephanie Fourie, Jerome en Judy Aube, Danie Ryan, Wayne Aucamp, Pieter le Grange, Pierre Kemp, Mike Bosman, Raymond Spiers, Enock, Stompie en Happy.

Hier is nog gewerk aan die brug. 

Die laaste verfwerk is nou gedoen. 

Met die laaste verfwerk wat vandeesweek voltooi is, is daar ook ‘n  beroep op inwoners en besoekers gedoen om asseblief nie graffiti op die brug te skryf nie, of om slotte aan die brug se draad en kabels te hang nie.

Kyk uit vir die alternatief wat eersdaags by die brug geplaas sal word waar jy wel ‘n slot sal kan hang om jou besoek aan hierdie prag toerisme-aantreklikheid ekstra spesiaal te maak.

Die brug sal oop wees vir besoekers die naweek. Kom maak ‘n draai in die Vrystaatse Paris en beleef weer egte plattelandse hartlikheid.

Jy kan nie glo wat oor die afgelope weke by Parys se bekende hangbrug gedoen is om hier netjies te maak en reg te maak. 

Related Articles

Back to top button