News

Kunswerk van brug se slotte kom

Die verskil wat reeds die afgelope weke by die hangbrug gemaak is, sal jy nie glo nie!

Nie een van die slotte wat van die bekende hangbrug oor die Vaalrivier in Parys verwyder word, sal verlore gaan nie.
‘n Unieke kunswerk deur kunstenaar Joggie Kotzé van die Man van Staal kunsgalery in Parys sal gemaak word van die slotte wat van die brug verwyder is, en nie binne die volgende drie weke deur hul eienaars afgehaal is nie. Die slotte is by Jacks Paint in Waterstraat 25, Parys.

Die unieke en besonderse slotkunswerk wat beoog word, sal met voltooiing by die hangbrug gesien kan word.

Daar is verlede week begin met die groot taak om die slotte aan die hangbrug se staalkabels en draad te verwyder sodat die draad weerskante van die loopvlak van die brug vervang kan word.

Dit word gedoen ter wille van die veiligheid van talle besoekers en toeriste.

Die gehawende toestand van die draad was ‘n groot risiko vir toeriste wat graag oor hierdie brug loop.

Amptelike toestemming vir die verwydering van die slotte is van die Ngwathe munisipaliteit, waarvan Parys deel is, gekry.
Hoewel aanvanklik net van die erg geroeste slotte verwyder is om herstelwerk aan die brug te kan doen, was dit nadat begin is met die vervanging van die draad, duidelik dat daar geen ander uitweg is as om al die slotte te verwyder nie. Dit is gedoen om die nodige en baie uitdagende herstelwerk hier te kan doen, het Stephanie Fourie, wat die inisiatief geneem het om die brug te herstel, en die omgewing van die hangbrug te verfraai, gesê.

Hoewel die brug al in die verlede ook deur vrywilligers geverf, en hier netjies gemaak is, is herstelwerk van dié omvang in jare nooit gedoen nie.

Die slotte wat reeds teen verlede naweek afgehaal is. het 205 kg geweeg, en is dit net ‘n kwart van die slotte wat nog afgehaal moet word.

Daar sal met voltooiing van die hangbrug verfraaiingsprojek ook ‘n alternatief geskep word vir mense wat die brug besoek, om hul slotte daar te kan hang.

Die brug is een van Parys se grootste en gewildste toerisme-trekpleisters, en het menige paartjie oor die jare al met ‘n slot aan die brug ewige trou beloof.

Ander weer het slotte kom hang ter nagedagtenis aan ‘n familielid, of vir ‘n foto op die brug waar ‘n slot gehang word met die datum waarop die toerismejuweel besoek is.

Stephanie wat aanvanklik eers begin het om die R59 skoon te maak, het mettertyd die behoefte raakgesien om ook hier by die hangbrug reg te maak.

Verskeie individue en sakelui het haar ondersteun, en is daar uit eie sak etlike weke gelede begin om by die brug daagliks skoon te maak, slaggate te herstel, padmerke te verf, die verbleikte straatname op die sypaadjies by die brug weer oor te verf, skade wat vroeër vanjaar deur die vloed aan die rivierwal gemaak is, te herstel, en die hele brug te verf. Die toestand van die los metaalplate op die brug en die veiligheidsdraad was egter ‘n probleem, en is nadat toestemming gekry is, ook met dié groot taak verlede week begin.

Die verskil wat reeds die afgelope weke by die hangbrug gemaak is, sal jy nie glo nie!

Related Articles

Back to top button