News

Groot skade aan voertuie na verwoestende brande

Daar is groot waardering vir boere wat vir ure lank gehelp het om teen die vlamme te veg in moeilik begaanbare terrein

Nagenoeg 10 000 hektaar het die afgelope naweek in die Vredefort Koepel Bergland area gebrand toe dit Saterdagoggend rondom 11:30 aan die noordwes-kant van Venterskroon begin brand het, en vlamme gewoed het tot aan die oostekant van die plaas Bergkruin.

Boere tesame met Working on Fire Potchefstroom en vrywilligers het regdeur die nag sonder ophou probeer om die brand geblus te kry, maar is eers teen Sondagmiddag daarin geslaag, het Markus Prinsloo, Lima 7 brandhoof vir die Koepel-gebied gesê.

Die moeilik begaanbare bergterrein het dit moeilik gemaak en het baie boere skade aan voertuie. Skade wat weer uit eie sak betaal moet word. Ook die Working on Fire Potchefstroom span se voertuie het na raming R40 000 skade oor die naweek gekry terwyl geveg is teen die verwoestende vlamme, het dr. Kobus Roux gesê.
Die brand in die Venterskroon-omgwing volg nadat dit die vorige naweek ook in die Koepel by Hadeda Creek, Kommandonek en Baskop gebrand het, en kort tevore ook groot veeverliese gelei is met ‘n brand in die Rooipoortjie-omgewing.

Drie jaar gelede is een van die grootste brande in die Rooipoortjie-omgewing gesien en het dit vandaar in die Koepel ingebrand en toe oor die Parys/Potchefstroom-pad gespring en in die rigting van Lindequesdrift gebrand, voordat die wind die vlamme laat draai het en dit uiteindelik tussen Fochville en Potchefstroom gestuit is. Sondagmiddag het vlamme oor 60ha op Glen Durand in die Kopjeskraal-omgewing gewoed, en het dit gebrand van die rivier na die Kopjeskraalpad in ‘n oostelike rigting. Die brand kon eers teen 21:30 die aand onder beheer gebring word.
Volgens Willem Durandt is hulle baie dankbaar vir soveel wat kom help het om teen die vlamme te veg.

Hy sê 20 bakkies was binne tien minute daar om hulp te verleen. “Mense was ongelooflik,” sê hy, en voeg hy dat danksy brandbane en skoongebrande areas kon skade beperk word.

Met die Gazette se ter perse gaan het ‘n brandverbod steeds in beide die Noordwes en Vrystaat provinsies gegeld, en is mense gewaarsku om nie oop vure te maak nie.

Sou nalatigheid bewys kan word, kan diegene wat hul hieraan skuldig maak aangekla word.

Pieter Kemp, brandbrandbeskermingsbeampte van die Vaal Eden Brandbeskermingsvereniging, het vandeesweek bevestig dat een persoon Donderdag in die Vaal Eden-gebied gearresteer is vir die oortreding van die Veld- en Bosbrandwet 101 van 1998. Dit nadat dit Donderdag in die Vaal Eden-gebied gebrand het. Ook hier het brandbane gewys uiters suksesvol te wees om die brand te kon stop. Brandbane is die punt van waar teenbrande gemaak kan word.

‘n Totaal van 550ha is met die brand verloor, maar as teenbrande nie gemaak kon word nie, kon die skade tussen 2 000 en 3000ha gewees het, het hy gesê.

Saterdagmidag het dit weer begin brand in die Vaal Eden-omgewing as gevolg van stompe wat toe nog gesmeul het. Toe die wind draai, het dit weer vlam gevat.

Kemp sê daar was met die brandbestryding ook skade aan die Working on Fire span van Parys se voertuig.

Saterdag se wind het ‘n windspoed van gemiddeld 35km/h gemeet.

Sterk winde voor ‘n frontale stelsel bring gewoonlik die meeste brande soos die naweek gesien is. Juis daarom is dit belangrik om ag te slaan op waarskuwings teen brandgevaar en kan vullis wat byvoorbeeld aan die brand gesteek word, of kraggereedskap wat ‘n vonk kan maak maklik in winderige toestande fatale gevolge hê.

Mense wat by die Potchefstroom Brandbeskermingsvereniging wil aansluit kan Markus skakel by 071 682 9581.

 

Related Articles

Back to top button