News

“Bestaan Spoke Werklik?” – Vanaf ‘n Christelike Perspektief

Professor Henk Stoker en Pastoor Xolisa Matrose, betrokke by die Teologiese Skool te Potchefstroom, bespreek ‘n antwoord op die vraag.

Bestaan spoke werklik?

 

“My eerste vraag is, wat bedoel jy met spoke?” antwoord Matrose.

“In kort, nee,” sê Prof Stoker op die vraag, “As jy bedoel is dit moontlik dat geeste kan voorgee dat hulle mense is wat oorlede is, is die antwoord ja.”

“Spoke bestaan nie, maar geeste doen,” voeg Matrose by. Matrose verduidelik verder dat daar God se engele is, en gevalles engele wat onder leiding van die duiwel werk(demone). “Geeste van die lig en geeste van die donker.”

Prof Stoker sê dat sommige mense meer sensitief is vir die geesteswêreld, wat beteken sommige mense gaan die geeste kan aanvoel en in ekstreme gevalle selfs dinge sien of hoor, terwyl meeste mense onbewus van hul teenwoordigheid sal wees. “God se engele sal nie by “spokery” betrokke wees nie, want God verbied in Lev.19 en Deut. 18 kontak met die sogenaamde geeste van afgestorwenes. Daarteenoor is daar baie getuienis van demone wat vrees bring deur goed wat val of rondgegooi word, of selfs ‘vriendelik spook’ asof ʼn ‘engel van die lig’,” las Prof Stoker by.

Matrose verduidelik demone se teenwoordigheid vanaf ‘n Tradisionele Afrika Gelowe-agtergrond. “In Tradisionele Afrika Gelowe word daar geglo dat jou voorvaders jou lei en beskerm. Hierdie geloof veroorsaak dat deur rituele die spreekwoordelike deur tussen lewe en dood oopbly. Dit maak dit moontlik vir bose geeste om ons wêreld te betree en voor te gee hulle is oorledenes wat ons vertrou.”

Hoe gebeur dit dat mense deur demone oorgeneem word? Prof Stoker antwoord, “God het vir ons geestelike klere gegee wat ons beskerm teen invloede van die geesteswêreld. Wanneer die klere geskeur raak of mense by die bo-natuurlike betrokke raak, kan dit gebeur dat demone betrokke raak by jou.” Matrose las aan dat sommige geteisterdes mediums word wat dan gevra kan word om ander aan te val ter wille van jou voordeel. Sangomas, Druids, Waarsêers, Hekse Toekomsvoorspellers, en vele ander is voorbeelde van mediums wat betrokke by demone kan wees.

Wat doen ek om myself teen demone te beskerm? Matrose sê dat God almagtig is en ons beskerm. Bid en leer Bybelgedeeltes soos Romeine 8:38-39 uit jou kop uit. “Moet nie direk met die demoon kommunikeer nie. Bid tot God vir beskerming en oplossing.”

Prof Stoker vertel van ʼn geval waar mediums iemand genader het met ‘n sogenaamde boodskap van ʼn familielid wat oorlede is. “Moenie daarvoor val nie.”

Matrose kom vanaf ‘n tradisionele Afrika geloof-agtergrond, maar het tot geloof gekom as Christen en besef hoeveel verwoesting demone wat sogenaamd geeste van afgestorwenes is, saai onder sy mense. “Daar moet vir mense gesê word om nie hierdie deure oop te maak nie,” Verwys Matrose na die deur tussen lewe en dood. “God is ons skepper en die enigste pad na ewige lewe en veiligheid.” Matrose las egter by dat daar een ding is wat Christene van tradisionele Afrika gelowe kan leer, “Hulle gelowe is deel van elke aspek in hulle lewe. Ons as Christene moet ook so lewe.”

“Waar die Gees van God is, kan geen ander gees lewe nie. Vertrou op God,” sluit Prof Stoker af.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button