News

Inspeksiebesoeke in Koepel gedoen vir UNESCO-verslag

Inspeksiebesoeke in Koepel gedoen vir UNESCO-verslag

Die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing, Bewaring en Toerisme in die Noordwes Provinsie, het vandeesweek  grondeienaars in die Vredefort Koepel besoek as opvolginspeksie om ‘n evaluasie te doen van hoe dié prag wêrelderfenisgebied bewaar word in terme van ontwikkeling en watergebruik in die gebied. Daar sal spesifiek gekyk en opgevolg word oor die nakoming en nie-nakoming van nasionale en provinsiale wetgewing.

Verteenwoordigers van die departement het Dinsdag 5 September met die eerste besoeke begin, en sal tot vandag, Donderdag 7 September in die Koepel wees.

Die vorige inspeksie van die departement was in 2020, en is hierdie besoek grotendeels ‘n opvolgbesoek van die resultate van die vorige inspeksies.

Die Vredefort Koepel beslaan ’n kerngebied van 30 000 hektaar met ’n 5km buffersone van 14 422 hektaar, en sluit in 150 eiendomme in privaatbesit en 4 eiendomme in staatsbesit.

Die departement het grondeienaars se samewerking gevra ten opsigte van toegang, inligting wat benodig sou word en nodige dokumentasie om die sukses van die inspeksiebesoek te verseker.

Die besoek is nodig om die jaarlikse verslag aan UNESCO te kan lewer oor ontwikkeling in die Vredefort Koepel Wêrelderfenisgebied in die State of Conservation verslag wat jaarliks in Desember ingedien word.

Omdat ontwikkeling in die gebied ‘n bedreiging kan inhou vir die Vredefort Wêrelderfenisgebied, word kwartaallikse verslae van ontwikkelingsaansoeke ook ingedien by die Nasionale Departement van Bosbou, Vissery en Omgewing.

‘N Belangrike aspek waarna vandeesweek gekyk sou word is ook besoedeling van die Vaalrivier omdat dit ‘n wesenlike en ernstige bedreiging inhou vir die gebied met nasionale en internasionale aandag wat hieraan gegee word om ekologiese en biologiese verliese te voorkom. Gedurende 2019 is die Blue Deal Project geimplementeer wat juis fokus op besoedeling van die Vaalrivier, en die opgradering van watergehalte in die Vredefort Koepel-gebied. ‘n Deel van die uitkoms van die projek is om nakoming te monitor van watergebruikers in terme van die nasionale waterwet, en om op te tree teen diegene wat nie gehoor sou gee aan die bepalings van die wet nie.

Die nasionale departement van Waterwese en Sanitasie en die Dutch Water Authority (DWA) is die projekleiers met die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing, Bewaring en Toerisme in die Noordwes Provinsie as een van die rolspelers vir die implementering van die projek.

Gevolglik is beamptes van die Blue Deal Projek ook deel van die afgevaardigdes wat vandeesweek die inspeksiebesoeke uitvoer.

Meer oor die Vredefort Koepel

Die Vredefort Koepel, ongeveer 120 km suidwes van Johannesburg, langs Parys, is ’n verteenwoordigende gedeelte van ’n groter meteoriet impakstruktuur en dateer 2,023
miljard jaar terug in die planeet se geskiedenis. Dit is die planeet se oudste impakkrater en, met ’n radius van 190 km, ook waarskynlik die grootste en diepste.
Die Vredefort Koepel konstitueer getuienis van die aarde se grootste enkele energievrystellende gebeurtenis met massiewe gevolge vir ons planeet – sommige moontlik bydraend tot ons kennis en begrip van ons planeet se evolusionêre geskiedenis.
Die Koepel is ook die enigste voorbeeld van ’n volle geologiese profiel van ’n impakkrater wat onder die kratervloer is. Die impakkrater is omring met ’n buffersone van 5 km om die fenomeen oor
die lang termyn te beskerm teen ontwikkelingsbedreigings.
In Junie 2005 het UNESCO die Koepel as ’n Wêrelderfenisterrein gelys, en beskryf as “’n terrein met uitstaande universele waarde” – ’n gebied beskermenswaardig vir die hele planeet vir huidige en toekomstige
generasies.
Die Vredefort Koepel is dan ook van hoogste belang vir die internasionale gemeenskap, en nie net Suid-Afrika nie.
Volgens Willem Janse van Rensburg, voorsitter van die Noordwes Grondeienaarsvereniging, is die twee grondeienaarsverenigings in die Vrystaat en Noordwes Provinsies,
asook die Koepel Bewarea, tans in onderhandelings met die Regeringsowerhede verwikkel om die nasionale proklamasie van die Koepel as ’n Nasionale Erfenisterrein te verseker en te bespoedig.
Die nasionale World Heritage Convention Act, 1999 sal van toepassing wees op die Koepel en toepassing in samehang met Suid-Afrikaanse wetgewing, regulasies en juridiese instrumente, het hy gesê.

Related Articles

Back to top button