
Vir weke al word daar hard gewerk by Parys se bekende staal hangbrug oor die Vaalrivier om dié besondere toerismejuweel weer mooi te maak.
Danksy die ongelooflike inisiatief van ‘n inwoner, Stephanie Fourie, en ‘n aantal vrywilligers en sakelui wat dadelik hande gevat het om die projek te ondersteun, is die brug geverf, van die slaggate gevul, vloedskade herstel waar die water die grond weggekalwe en laat inval het, vullis opgetel, skoongemaak, en selfs die padmerke en straatname wat geverf was op die randstene weer nuwe kleur te gee. Jy sal die verskil wat hierdie weke se harde werk al gemaak het, nie glo nie. En dit alles uit eie sak.





Maar groot werk lê nou nog voor om onder meer die verweerde draad weerskante van die brug se loopvlak te vervang wat dringende aandag nodig gehad, en van die panele wat los was op die loopvlak weer vas te sit. Die werk is nodig om te verseker dat die brug veilig is vir die talle voetgangers wat graag oor die brug loop juis omdat dit so ‘n besonderse toerisme-aantreklikheid is.
Om die werk te kan doen is die brug vandag tydelik gesluit met ‘n hekkie wat gemonteer is by die ingang van die brug wat gesluit is, asook ‘n groot en duidelike bord wat waarsku dat die brug gesluit is tans as voorkomende maatreël om die veiligheid van besoekers te verseker.
Die werk by die brug sal oor twee weke voltooi wees.
Inwoners en besoekers se samewerking is gevra om asseblief nie nou op die brug te gaan nie omdat dit nie nou veilig is nie.
Dankie vir dit wat hier gedoen word ter wille van toerisme wat die hartklop van Parys is.



