News

Sang ‘n deel van die pad na herstel vir singende wetenskaplike

Vir Wynand is elke dag 'n loflied van dankbaarheid.

Na ‘n ernstige motorongeluk in 1999 en verskeie beroertes wat daarop sou volg, getuig Wynand Serfontein van Parys van genadekanse wat hy keer op keer gekry het. Iemand wat die lewe met albei hande aangryp in ‘n loflied van dankbaarheid, wanneer hy vertel van die rol wat musiek in sy pad na herstel gespeel het.

Wynand was sy lewe lank lief vir sing. Eintlik het sy ma ‘n groot invloed gehad op sy liefde vir musiek, gesels hy waar ons saam met sy vrou Elsje, koffie drink in hul sitkamer een middag laat. Hy vertel dat iemand Elsje gevra het of sy wil kom sing vir die Ad Musicum-koor toe hulle in die vroeë negentigs in Pretoria gewoon het. Elsje kon nie op daardie stadium nie, maar Wynand het die kans aangegryp en aangesluit by die koor. Albei sou later tot 1998 vir Ad Musicum sing.

Toe hul na Parys verhuis het, was die soektog nie net vir huis- koop nie, maar ook vir ‘n koor waar hy en Elsje sou kon inskakel. Hul destydse huisagent, Petro Church, het hulle aan Madelief Wolmarans voorgestel, en so het die Serfonteins ook in Parys hul liede vir sang kon uitleef oor die jare onder leiding van Madelief, Jan Badenhorst en Jean van den Berg waar hulle vir die dorpskoor gesing het. Later het hulle by die Deo Gloria-koor aangesluit.

En toe gebeur die ondenkbare. Op 29 Junie 1999 is Wynand op pad werk toe in ‘n kop-aan-kop botsing op die N1 onderweg na Sasolburg ernstig beseer. Hy het onder meer ‘n femur fraktuur gehad, ‘n bekken en tallus fraktuur, harsingskudding en veelvuldige inwendige beserings.

Daarby het dokters vermoed dat hy op die botsingstoneel twee be- roertes moes gehad het weens skok.
Sy linkerkant was aangetas, en moes hy van vooraf leer loop.

Sy toestand was ernstig. Na vyf weke in die intensiewe sorgeenheid waarvan hy die meeste van die tyd aan ‘n ventilator gekoppel was, is hy uiteindelik na ‘n saal oorgeplaas waar hy nog drie weke moes aansterk. ‘n Maandelange pad van herstel het op hom gewag met intense fisioterapie en biokinetika sessies. Eers teen einde 1999 kon hy as navorser by Sasol weer voltyds begin werk. Dit was moeilike maande vir Wynand en Elsje, maar dié twee van hulle is dit eens – koorsang het ‘n sterk emosionele komponent, en het gehelp om Wynand se gemoed te lig.

In 2010 – tien jaar na sy ongeluk, het hy weer ‘n beroerte gehad. Dié keer is sy regterkant aangetas, en het hy noodchirurgie nodig gehad. Weer het hy die genade gekry om te kon herstel, hoewel hy ‘n mate van die funksie aan sy regterkant van sy liggaam verloor het.

En toe kom Covid. Soos baie ander dinge wat ingeboet moes word vir inperking, kon daar nie koor gesing word nie. “Toe ons uiteindelik weer kon oefen, het ek agtergekom dat my stem agteruitgegaan het,” vertel Wynand. Dit is toe dat hy by tenoor Stefan Louw se sangskool aangesluit het nadat hul paaie gekruis het toe Stefan uitgehelp het met die afrigting van die mansstemme in die koor. Weens die ongeluk van destyds is Wynand se diafragma effe afgeplat, en het die sangoefening gehelp om sy stem en asemhaling te verbeter.

Vandag kyk hy met nuwe oë na die lewe. Iemand wat die betekenis verstaan van ‘Carpe Diem’ uit dankbaarheid vir meer as twintig jaar se genade jare.

Tussendeur die studie, sal daar altyd tyd wees om te sing, want vir Wynand is elke dag ‘n loflied van dankbaarheid.
* Wynand is een van die plaaslike kunstenaars wie se talent gehoor sal word op 3 November met die Gala-konsert deur studente van die Stefan Louw Sangskool in Parys. Die tema van die aand – Celebrating Bond 007 met die beste van die Bond temamusiek. Maak seker jy loop dit nie mis nie.

Die konsert is om 18:30 vir 19:00 in die NG Parys-Suid kerksaal. Vir meer inligting skakel Marisa by 064 963 5386.

Related Articles

Back to top button