News

‘n Borrelende Leonel drie jaar na skêrongeluk

Vandag getuig André en Mari egter steeds oor die wonder wat hulle na die ongeluk beleef het met soveel mense wat na hulle uitgereik het om te help en bygedra het vir haar operasies en behandeling.

Waar die 7-jarige Leonel Riekert agter haar lessenaar in juffrou Maretha se graad 2-klas by Parys Christelike Skool sit, kan jy skaars glo dat drie jaar verloop het sedert die fratsongeluk waartydens ‘n skêr Leonel se wang gepe- netreer en ernstige skade aan haar linkeroog veroorsaak het. Leonel het na die ongeluk net 5% sig in haar linkeroog, maar dit hou dié borrelende dogtertjie nie vir een oomblik terug nie.

Sy het heeltemal aangepas en dra net ‘n bril wanneer sy haar skoolwerk doen, vertel haar ma, Mari.
Soos enige dogtertjie van haar ouderdom is sy mal oor haar maats, inkleur en Tik Tok, en stap sy selfversekerd op die loopplank wanneer sy modelwerk doen. Sy het selfs netbal by die skool gespeel, vertel Mari.

As jy nie weet van haar siggebrek nie, sal jy kwalik kan glo dat Leonel sedert die ongeluk wat sy op 4-jarige ouderdom gehad het toe sy geval het met ‘n skêr in haar handjie, drie oogoperasies moes ondergaan, waaronder ook om katarakte te verwyder en ‘n lensoorplanting – die gevolg van die trauma van die besering.

Na die ongeluk is alles moontlik vir Leonel gedoen om die sig in haar ogie te red, maar moes haar ouers, André en Mari, in November 2020 die hartseer nuus hoor dat sy permanente sigskade het. Vandag getuig André en Mari egter steeds oor die wonder wat hulle na die ongeluk beleef het met soveel mense wat na hulle uitgereik het om te help en bygedra het vir haar operasies en behandeling. Mense het hul harte eenvoudig net oopgemaak om Leonel te help, en is haar skool ook ongelooflik ondersteunend vertel Mari.

Hul klein rabbedoe het geen vrees vir ‘n skêr of dokters nie, en is duidelik in haar element met haar maatjies om haar in die klas.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button