NewsNews

Sy bak-en-brou laat smulgebak onthou

Douvoordag is daar al lewe in Turkstra Bakkery se kombuis. Turkstra is bekend vir sy varsgebakte produkte wat daagliks op die rakke verskyn, maar nie almal weet wat agter die skerms van dié bakkery plaasvind nie.

Douvoordag is daar al lewe in Turkstra Bakkery se kombuis.
Turkstra is bekend vir sy varsgebakte produkte wat daagliks op die rakke verskyn, maar nie almal weet wat agter die skerms van dié bakkery plaasvind nie.
Fanie Coetsee (78), hoofbakker van Turkstra Bakkery is elke oggend nog voor die son opkom reeds doenig in die groot kombuise. Hy is ook die personeellid wat die langste by Turkstra werk.
Hy het saam met die bakkery getrek van waar dit eers in Kerkstraat was en nou in Sol Plaatjiestraat is.
Andries Turkstra het die bakkery in 1935 begin en in 1951, toe hy 13 jaar oud was, het Fanie daar begin werk.
Na oom Andries het sy seun Klaas Turkstra oorgeneem, en nou is Gerhard Turkstra, die derde generasie, in beheer.
Fanie was nog ‘n skoolseun by Gimmies en het vir ‘n bietjie ekstra sakgeld in die vakansies en Saterdae gewerk.
“In daardie jare was die bakkery so klein, ek het maar hier en daar met alles gehelp,” sê hy.
In 1953, op 16-jarige ouderdom het hy voltyds by Turkstra begin werk.
“Ons het alles gebak, brood, koek, en nog meer.”
Vir hom maak dit nie saak nie, hy geniet alles wat hy bak. “Toe ek daardie tyd in die bakkery gekom het, toe het ‘n brood ‘n tiekie gekos (half sent), nou kos ‘n brood al R15. ‘n Koek het seker so ‘n rand of wat gekos,” vertel Fanie.
Deur die jare het Fanie saam met die bakkery oud geword en hy was daar tydens al die groot veranderinge.
“Vroeër jare het ons baie harder gewerk, ons het nog met die ou kooloonde gebak.
“Daar is nog van die ou masjiene wat saam met ons gekom het wat agter in die stoor staan.”
Alhoewel hy steeds in beheer is van die kombuis, het hy baie afgeskaal met die bakkery waar hy vroegoggend inkom en om en by 10:00 weer huis toe gaan.
‘n Tipiese oggend in Fanie se lewe begin douvoordag in die bakkery. “As ek opstaan, kom ek bakhuis toe.
“As ek niks het om te doen nie, dan kom ek bakhuis toe, as ek in die nag nie kan slaap nie, dan kom ek bakhuis toe, want ek weet hier is altyd iets om te doen.”
Met die veranderende tye het die bakproses ook baie verander. Volgens Fanie het dit destyds 10 tot 12 mense geneem om brood te bak, en nou is daar helfte soveel, omdat alles outomaties geword het.
Fanie is al so lank by Turkstra dat hy al soos familie beskou word. “Meneer Klaas het gesê ek is deel van die Turkstra familie,” sê hy, terwyl die reuk van allerhande varsgebak in die lug hang.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button