News

Eskom skuldverligting : Nog geen aansoek van Ngwathe nie

Ngwathe skuld Eskom reeds byna R2 miljard in agterstallige dienstegeld, en die skuld bly ophoop.

Eskom het egter onlangs ‘n reddingboei uitgegooi na sukkelende munisipaliteite met ‘n skuldverligtingsplan waardeur dit moontlik is vir deelnemende munisipaliteite om hul agterstallige skuld aan die kragreus oor drie jaar te verminder, of selfs te laat afskryf, mits volgehou kan word om deurlopend aan die streng voorwaardes van die plan te voldoen. Om te kwalifiseer moet munisipaliteite by Eskom aansoek doen.

Die Ngwathe munisipaliteit het egter nog nie vir die skuldverligting aansoek gedoen nie, het die munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, by navraag van Gazette bevestig. Sy sê die rede is omdat die munisipaliteit nie kwalifiseer nie, en dat hulp van die nasionale tesourie gevra is.

Onder die voorwaardes wat in die skuldverligtingsplan ingesluit is, is die bepaling dat munisipaliteite wat in aanmerking wil kom, onder meer hul lopende rekening getrou binne 30 dae vandat die maandelikse Eskom-faktuur ontvang is, moet betaal
Die plan vereis ook dat munisipaliteite se tariewe ware koste moet verteenwoordig, en waar dit nie die geval is nie, aangepaste tariewe oor drie tot vyf jaar infaseer moet word.

As munisipaliteite wat deelneem aan die skuldverligtingsplan vir 12 agtereenvolgende maande aan al die gestelde voorwaardes voldoen, sal die nasionale tesourie Eskom opdrag gee om ‘n derde van die munisipaliteit se skuld, wat ook boetes en rentes insluit, af te skryf. Nadat daar vir 36 aaneenlopende maande aan die gestelde voorwaardes van die plan voldoen is, kan die munisipaliteit se volle agterstallige skuld selfs afgeskryf word.

Sou ‘n munisipaliteit wat aanvaar is vir die skuldverligtingsplan nie aan die voorwaardes voldoen in die drie jaar termyn nie, kan regstappe teen so ‘n munisipaliteit geneem word, en is dit moontlik dat daar ‘n aanslag kan wees op die munisipaliteit se bankrekening, en selfs die herinstel van alle uitstaande skuld, rente en boetes.
Wanbetaling volgens die skuldverligtingsplan kan ook vir deelnemende munisipaliteite beteken dat by die nasionale energiereguleerder (Nersa) aansoek gedoen kan word dat die kragverspreidingslisensie van die munisipaliteit opgeskort word.

Eskom het vroeër gesê die voorwaardes van die plan is so saamgestel dat selfs munisipaliteite wat die meeste aan Eskom skuld, hieraan kan voldoen.

DA-raadslede volstaan egter dat Ngwathe wel kan kwalifiseer en dringend moet aansoek doen vir die skuldverligting, maar ‘bang’ is vir die moeilike voorwaardes wat onder meer beteken dat Eskom-verkoopsinkomste allereers aan Eskom se lopende rekening oorbetaal moet word, is gesê.

Die party se raadslede sê dat Ngwathe se aansoek om skuldverligting moes voortvloei uit die raad se vroeëre opdrag aan die finansiële taakspan om ‘n herstelplan te formuleer wat dan deur die raad goedgekeur moes word. Die taakspan het egter nog nie een keer byeen gekom nie, het DA-raadslid Arnold Schoonwinkel, die DA-koukus se segsman oor munisipale finansies, bevestig.

Volgens DA-LPW Leona Kleynhans het net Mangaung en drie ander kleiner Vrystaatse munisipaliteite reeds vir die skuldverligting aansoek gedoen

 

Related Articles

Back to top button