News

‘Ons skud nie blik vir ons eie sak nie’

Of jy hulle as lastig beskou, of self 'n rand in die blik laat klingel - daar is 'n ander kant van die munt waarvan mense nie altyd weet nie

 

Die somerson bak ongenadig in dié Vrystaatse dorpie wat oudergewoonte op ‘n Saterdag wemel van wiele en voete, maar dit demp nie die vrolikheid van hulle wat hier saambondel om die blikke te laat raas nie.

Sommige ry verby. Ander groet vriendelik, gooi ‘n geldjie in die blik, of toet met die verbyry. Ander snou hulle ‘n afjak toe.
Maar studente wat blikskud, of hulle wat skud vir ‘n rampaty, sporttoer of kamp, in Parys se hoofstraat is al so deel van die dorp soos pannekoek verkoop.

Of jy hulle as lastig beskou, of self ‘n rand in die blik laat klingel – daar is ‘n ander kant van die munt waarvan mense nie altyd weet nie, sê Parysenaar Lenke Ernst, ‘n derdejaar student in ekonomie en risikobestuur aan die Pukke se Potchefstroom-kampus.

Lenke bly in Minjonet Dameskoshuis, en dien die afgelope twee jaar in die universiteit se Uit- voerende Komitee met die portefeulje Studentebelange en Ontwikkeling. Op ‘n dag toe sy as kelner by ‘n restaurant in die dorp werk, raak sy en ‘n kliënt aan die gesels oor die blikskud-ding, en vra hy haar: “Lenke, hoekom vertel jy nie jou storie oor blikskud nie?” En so kom ek by Lenke uit.

Van links is Lenke Ernst, Jacolette Wessels en Francelle Jordaan. Die foto is met ‘n blikskud in Parys net buite die dorp geneem.

“Mense dink so maklik ons skud blik vir studente kuiers, of om drank te koop, maar ons skud nie vir ons eie sakke nie”, sê Lenke.

Daar is baie projekte by universiteite om studente te help wat minder het. Een hiervan is Big Prims waaraan al die primarias van die onderskeie koshuise deelneem om geld in te samel vir hulle wat nie het nie. Studente dra by tot hul Primaria-fonds. Ons was karre, verkoop doughnuts, doen wat ons kan, vertel sy, maar dit is net ‘n druppel in die emmer. Omdat Parys ‘n toerismedorp is, is mense ons goedgesind en gee graag as hul weet dat dit vir ‘n goeie doel is, sê sy.

Soms maak hul tot R2 000 met ‘n blikskud waarmee hulle weer ander studente kan help. Baie NSFAS studente se toelae is net nie genoeg om by te hou met die stygende lewenskostes nie. “Die geld wat ons insamel gaan direk na die Primaria-fonds en word goed bestuur.”

Verlede week sou hulle deelneem aan ‘n Cycle Challenge om fondse in te samel, maar met kontakklasse wat toe opgeskort was , is dié fietstrap uitgestel. Dan sou hulle nog brownies ook bak om te verkoop. “Ons gee baie van ons tyd vir die universiteit en dis lekker om te gee,” gesels sy, “maar soms is ‘n paar brownies en dougnuts net nie genoeg om ‘n verskil vir studente wat sukkel, te maak nie.”

Haar komitee is verantwoordelik vir private studente en vier van die komiteelede is self ook NSFAS studente. “Ja, dit gebeur dat mense vir hul eie sakke blik skud,” sê Lenke, “maar dikwels betaal daardie blikskud-geldjie ook vir ‘n afrigter of ander goeie doel.”

“As mense net vra en met ons gesels, sal ons graag vertel van ons projekte,” sê Lenke, “en as jy nie wil gee nie, gee dan net jou glimlag.”

Related Articles

Back to top button