News

Hartverskeurend: Diewe steel honde se kos

Mense maak hul harte oop vir DBV nood

Van die hondekos van die Parys DBV is verlede week tydens ‘n inbraak gesteel toe diewe die draad geknip en oor die omheiningsmuur geklim het om toegang tot die perseel te kry. Die stoorkamer waarin die kos vir die diere gebêre word, is oopgebreek, en is behalwe vir die hondekos en ‘n kruiwa niks anders op die perseel gesteel nie.

Madelyn Venter in die stoor waar diewe verlede week van die DBV se hondekos gevat het. 

 

Die diewe was duidelik agter die hondekos aan met geen katkos wat uit die stoor gevat is nie.

Parysenaars het egter sedert die nuus van die inbraak op sosiale media gedeel is, hul harte en beursies oopgemaak vir die geweldige nood van die plaaslike DBV.

Selfs sakeondernemings het ingespring en gehelp om hondekos in te samel, of ‘n persentasie van hul wins geskenk om te help met hondekos. Daar is selfs ‘n kruiwa vir die DBV geskenk in die plek van die gesteelde een, en gehelp met katsand waarvoor daar ook groot nood is.

Die DBV het gemiddeld 350kg hondekos per maand nodig, en maak elke bydrae werklik ‘n verskil.

Jaco Venter en Buks  de Kock oorhandig ‘n hondekos skenking namens Vaal Rivier Gas aan Shadrack Mfishane van die DBV.

Op die twee foto’s hierbo is die skenkings wat by Anna Patat ingesamel is vir die DBV.

Mense wat graag nog ‘n skenking vir die DBV wil maak is welkom om hondekos vir klein sowel as groot honde, asook katsand by die DBV af te gee. Onthou ook dat naas kos en skoonmaakmiddels, ‘n geldelike bydrae altyd welkom is om die DBV te help.

Die DBV ontvang geen subsidie nie en is suiwer afhanklik van fondsinsamelings en die ondersteuning van die publiek en sakelui om lopende uitgawes te betaal om die DBV instaat te stel om die diens te kan lewer wat met groot toewyding in jou gemeenskap gedoen word.

Brandstof, veeartskoste, die munisipale rekening, salarisse en wat nodig is om vir die diere op die perseel te kan sorg, moet betaal word, en sê die DBV dankie vir elkeen wie se harte oop is vir die nood van diere.

Jy kan ook geldelik die DBV help deur ‘n donasie in die volgende rekening:
Bank :Standard bank
Rekeninghouer: SPCA Parys
Rekeningnommer: 040947882
Takkode: 051 001

Parys DBV kan by (056) 811 3671 geskakel word gedurende kantoorure

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button