Wêrelderkenning vir jong danser

'Daar sal altyd iemand beter wees as jy, maar daar is niemand soos jy nie'

Mizelle Terre’blanche het na afloop van die Dance World Cup waar sy Suid-Afrika van 2 tot 8 Julie in Braga, Portugal verteenwoordig het, kon spog met ‘n silwermedalje vir ballet, en goud vir haar liriese, kontemporêre en Jazz dansroetines. Meer as 120 000 deelnemers uit 52 lande van reg oor die wêreld het deelgeneem.

Goue medalje wenners by die kam- pioenskap het ook die geleentheid gehad om aan die Gala-aand vir verskeie dansgenres deel te neem, en is Mizelle aangewys as die trofeewenner vir die algeheel beste Classical Senior Female, sowel as die trofeewenner vir die algeheel beste Theatrical Senior Female. Op grond van dié besondere prestasies het sy ‘n beurs ontang om in Frankryk te gaan dans en studeer.

Mizelle het vroeër vanjaar van 20 tot 23 Mei ook Suid-Afrika verteenwoordig by The DanceStar World Masters in Kroasië waaraan meer as 5 000 dansers van verskeie wêreldlande deelgeneem het. Sy het daar geskitter met vier goue medaljes vir haar ballet, kontemporêre, ope en musiekteater roetines, asook twee silwermedaljes vir haar liriese en jazz routines.
Gedurende die kwalifiserende en finale uitdunne, het haar optrede die beoordelaars so beïndruk dat sy twee geleenthede toegestaan is om by die prestige DanceStar Gala Night te kon optree. Die program vir die gala-aand het die 20 beste dansroetines van die kompetisie ingesluit.

By die toekenningsaand is Mizelle bekroon as Best Female Talent of the Classical Chapter, wat ballet, moderne danse, jazz, liriese danse, akrobatiese danse en die ope afdelings van die hele kompetisie ingesluit het.

Mizelle was skaars drie jaar oud toe haar ouma, Winnie, haar na haar eerste balletklas geneem het. Sy was eintlik té jonk vir die klas, vertel Mizelle, maar die balletjuffrou het haar talent sommer gou raakgesien. Vandat sy nege jaar oud was het sy ook begin met ritmiese gimnastiek, en daarmee volgehou totdat sy sestien was. Mizellle het toe ander dansstyle geleer en aan danskompetisies begin deelneem.

Vir die talentvolle Mizelle het haar uitstaande prestasies nie gekom sonder baie harde werk, toewyding en haar familie – maar in besonder haar ma en ouma se geloof in haar, en ondersteu- ning om by elke oefening en kompetisie te kom, sê Mizelle. “Dit is vir hulle wat ek moet dankie sê. Hulle het soveel opofferings vir my gemaak,”

En dan is daar haar dansinstrukteurs deur haar hele skoolloopbaan, en haar huidige afrigter en choreograaf, Tiaan Visser, wat haar help vorm het.

Maar bo alles was die Here vir my baie goed veral die afgelope jaar, sê ‘n beskeie Mizelle.
Sy oefen gemiddeld ses tot agt ure daagliks, Maandae tot Vrydae, en tussen twee en drie ure op ‘n Saterdag en Sondag. Om te kan dans vir ‘n lewe moet jy passie hê vir dit wat jy doen, sê Mizelle, “want daar sal altyd iemand beter as jy wees, maar daar is niemand soos jy nie.”

“Jy moet iets kan gee wat niemand anders kan gee nie. Dit is wat die wêreld wil sien – jou beste,” gesels sy.
Vir haar lê haar “Teachers” eksamen nou in September voor. ‘n Uitdaging op sy eie – want dit is een ding om te dans, maar iets heeltemal anders om daardie kennis aan iemand anders oor te dra, sê Mizelle.

Later vanjaar neem sy deel aan die Summer School in Pietermaritzburg waar internasionale beoordelaars sal wees vir die toeken van die prestige Cyril Beaumont beurs.
Daarna sal sy waarskynlik in Januarie 2024 die beursgeleentheid in Frankryk gebruik.

Vir nou sien sy die meeste daarna uit om een van haar rolmodelle, die Argentynse ballerina, Marianella Nunez wat in Engeland vir Royal Ballet dans, in Oktober in Suid-Afrika te sien dans in een van die hoofrolle in Don Quote. Dit word in die Nelson Mandela Theatre in Johannesburg aangebied.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button