Local news

GPF bespreek misdaad, brande en bedelary

Statistieke het al herhaaldelik getoon dat 'n dorp met 'n sterk buurtwag en 'n betrokke gemeenskap, drasties minder misdaad het

Met die laaste vergadering van die Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF), is misdaadtendense asook die vooruitsigte vir die huidige brandseisoen bespreek. Daar is veral melding gemaak van brande wat veroorsaak word wanneer elektriese toestelle nie tydens beurtkrag afgeskakel word nie.

Inwoners is aangeraai om enige elektriese toerusting af te skakel gedurende beurtkrag. Talle brande het al by wonings en besighede ontstaan waar onder meer haardroërs, verhittingstoestelle en kombuistoerusting aan
vergeet word, terwyl daar niemand op die perseel is nie.

As jy sensitiewe elektroniese toerusting soos rekenaars en televisies het, wag eerder ‘n halfuur voordat jy dit weer aanskakel,na beurtkrag sodat die kragnetwerk kan stabiliseer.

Oop vlamme moet nie onbewaak gelaat word nie. Kerse wat omval, gastoerusting wat nie gereeld nagegaan word nie, en die verkeerde gebruik van kragopwekkers het die afgelope ruk talle brande veroorsaak.

Volgens wet moet enige gasinstallasie elke vyf jaar weer gesertifiseer word om die veilige werking daarvan te verseker. Wanneer jy jou gasbottel vat om te hervul, neem ook jou koker en lig saam sodat dit ook nagegaan kan word. Onklaar seëls op toerusing lek gas, en hou ‘n brandgevaar in.

Baie mense wend hul ook tot die gebruik van sonpanele en noodkragopwekker installasies om beurtkrag die hoof te bied.

Dié installasies kan slegs deur ‘n geakkrediteerde installasie tegnikus geïnstalleer en gesertifiseer word. Vermy die versoeking om ‘n “goedkoop” selfdoen installasie te doen.

Swak installasies kan paneel- en battery brande verooraak, sowel as strukturele skade aan dakke veroorsaak. Lithium gebasseerde brande is uiters moeilik om te blus en gifgasse wat afgegee word is baie gevaarlik.

Wetgewing bepaal dat ‘n noodkragopwekker slegs op twee maniere gebruik word. Dit is deur middel van ‘n oorskakelngs skakelaar wat op jou verdeelbord aangebring word en ook gesertifiseer moet word. Die elektrisïen
bepaal dan kabeldiktes en bedraad ook die nodige aardgeleiding.

Die tweede manier is om toerusting direk met ‘n verlengkoord te koppel bv. ‘n yskas of TV direk deur die verlengkoord na die kragopwekker. Die kragopwekker moet dan ook geaard wees na ‘n aardpen om elektriese skok te voorkom indien die kragopwekker sou onklaar raak. Maak ook seker dat die verlengkoorde geskik is vir die las wat gedra word, sodat dit nie oorverhit en ‘n brand veroorsaak nie.

Jou versekering kan weier om die eis te betaal indien jy nie ‘n geldige gas en elektriese sertifikaat kan toon na ‘n brand nie.

Die brand van leë erwe en tuinvullis is ook ‘n probleem. Sommige huiseienaars neem dit op hulself om leë erwe “skoon te brand” weens “veiligheids” en “omgewings” kwellinge. Dit gebeur dan dikwels dat die brande buite beheer raak en skade veroorsaak.

Onwettige stort van rommel deur die gemeenskap veroorsaak ook probleme wanneer straatlopers kwaadwillig die vullis aan die brand sou steek. As jy iemand onwettig sien vullis stort, rapporteer dit aan die munisipale gesondheidsdienste.

Daar is weer ‘n versoek aan die gemeenskap gerig om nie goedsmoeds geld aan bedelaars by besighede en kruisings te gee nie. Dikwels word die geld gebruik om dwelms te koop. Dit lei weer tot diefstal en inbrake om die verslawing te onderhou.

Ongelukkig gebeur dit ook dat die publiek soms met aggressie behandel word as hul nie geld wil gee nie. Skenk eerder u geldjie aan instansies wat werk vir kos en rehabilitasie programme aanmoedig om díe wat gewillig
is te help met rehabilitasie. Deur net geld te gee moedig jy misdaad en ander probleme
aan waarmee die polisie en maatskaplike dienste dag vir dag sukkel.

Raak ook betrokke by buurtwagte om te sien waar jy kan help.

Statistieke het al herhaaldelik getoon dat ‘n dorp met ‘n sterk buurtwag en ‘n betrokke gemeenskap, drasties minder misdaad het

Related Articles

Back to top button