News

Gedenkdiens môre gehou vir SA vlieënier

* Die gedenkdiens sal om 11:00 op Dinsdag 4 Julie vanuit die NG gemeente Parys-Oos plaasvind. 

Familie van Charl (Duim) van Rhyn sal môre, Dinsdag 4 Julie, die lewe van ‘n uitsonderlike vlieënier gedenk wat op 22 Junie tragies in ‘n vliegongeluk in Angola gesterf het.

Volgens sy skoonsus, Sonja van Rhyn van Parys, was Charl in Angola waar hy vanuit ‘n lugbespuitingsvliegtuig opnames vir ‘n diamantmynmaatskappy sou doen.

Die Air Tractor AT 502B waarmee Charl gevlieg het, het volgens inligting tussen Cambula en Lucapa neergestort nadat dit volgens die nuusnetwerk BNN vanaf die Deolinda Rodrigues-lughawe in Saurimo, na Lunda Norte vertrek het.

Dit is nie seker wat presies verkeerd geloop het nie. ‘n Noodhelikopeter het die vliegtuigwrak gevind kort nadat  die beheertoring by die Deolinda Rodrigues-lughawe kontak met Charl verloor het.

Charl het gelewe vir sy werk, het Sonja gesê. Vir hom was dit ‘n absolute passie om te kon vlieg.. Hy was bekend as n uiters versigtige en gefokusde vlieënier wat geen kanse sou waag nie.

Die afgelope tien jaar het hy in verskeie Afrika lande as vlieënier gewerk – onder meer in  Nigerië, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Zambié, Togo en Sierra Leone.

Hy was iemand wat lief was vir mense en vir sy familie en vriende. Iemand wat lekker kon lag en grappe maak – wat omgegee het vir ander.

“Hy het ‘n ongelooflike selfdissipline gehad in alles wat hy doen. Of hy nou gevlieg het, of motor bestuur het, hy was gefokus op wat hy doen,” het Sonja gesê.

Juis daarom was sy dood ‘n groot skok vir sy familie.

Related Articles

Back to top button