News

Waar’s ons geld?

Mafube werkers staak oor salarisse

 

Die Mafube-plaaslike munisipaliteit (Frankfort, Cornelia, Tweeling en Villiers) kan nie werkers se salarisse vir Mei betaal nie en dit het nou tot ʼn staking gelei.

Dit beteken die munisipaliteit kan nie nou  bedryfsuitgawes aangaan, soos die aankoop van brandstof vir voertuie of chemikalieë vir watersuiwering nie.

“Dit stuur af op ʼn groter diensleweringskrisis as wat die munisipaliteit tans beleef,”  sê  Tom Janse van Rensburg, die VF Plus raadslid vir die Mafube Plaaslike Munisipaliteit.

Volgens rdl.  Janse van Rensburg,  het die munisipale werkers se pensioenfonds  ʼn hofbevel gekry om die munisipaliteit se bankrekening te bevries.

Die munisipaliteit, wat tans onder artikel 139-ingryping is, skuld R87.3 miljoen aan agterstallige pensioenfondsbydraes vir die tydperk van 2012 tot 2017.

ʼn Betalingsooreenkoms is destyds in plek gestel, maar die munisipaliteit het dit nie nagekom nie.

Na gesprekke met die LUR vir finansies, me. Gadija Brown, het die VF Plus bevestiging gekry dat die provinsiale tesourie tans besig is om ʼn afbetalingsooreenkoms, ooreenkomstig die bestaande finansiële herstelplan, tussen die munisipaliteit en die pensioenfonds te bemiddel.

Nasionale tesourie het intussen aangedui dat die munisipaliteit se begroting vir die 2023/2024-boekjaar onbefonds is.

Die munisipaliteit het opdrag gekry om ʼn begrotingsbefondsingplan op te stel wat deur die raad goedgekeur moet word.

 

 

Related Articles

Back to top button