News

Duisende kom geniet die lugskouspel by Parys

Van die land se voorste vlieëniers is vandag hier in die lug met uitsonderlike akrobatiese vertonings.

Dit is al van vroegdag die ene bedrywigheid by Parys se vliegveld waar die Parys lugskou vir die tweede jaar agtereenvolgens aangebied is. Die program eindig vanmiddag om 15:00.

Skougangers is vanjaar weer getrakteer met ‘n program van uitstaande vliegvernuf en akrobatiese lugkuns deur  van die land se voorste vlieëniers wat vandag hier in die lug was.

Hieronder was voormalige SAL kaptein en uiters ervare vlieënier Scully Levin en sy Flying Lions wat uitsonderlike formasie-vlug gedoen het met vier Harvard T6 vliegtuie.  Die Harvard vliegtuie het die Suid-Afrikaanse Lugmag vir 55 jaar gedien met menige vlieënier wat al agter die stuur van die getroue Harvards die kuns van vlieg geleer is.

Scully en sy spanmaats, Arnie Meneghelli, Ellis Levin en Sean Thackwray, het ook vandag die 4 Pitts Specials gevlieg as die Hired gun span.

Ander trekpleisters vandag was Menno Parsons met die Bell Huey helikopter en P51 Mustang wat uit die Tweede wêreldoorlog dateer, en die Beech Craft 18 wat deur Scully en Flippie van Emmenis gevlieg is.

 

Vanjaar is die SA lugmagmuseum,  68 Lugskool, 5 Lugdiens eenheid en JARIC (Joint Air Reconnaissance Intelligence Center) ook onder die uitstallers gewees en het talle kinders die uitstalling besoek waar onder meer ook gesels is oor loopbaangeleenthede in die lugmag.

Hierdie was by uitstek n gesinsdag wat met ope arms deur Parys se toerismesektor verwelkom word en naas verskeie stalletjies met hope te eet en te koop, ook gesorg het vir ‘n bekostigbare geleentheid wat oud en jonk kon geniet.

 

Dankie aan Parys SAPD, Openbare Orde Polisiëring, Parys Medics, Landelike Gemeenskap Veiligheid (LGV), Ngwathe Brandweer en Nooddiens en Work on Fire wat op hul pos vir die dag was asook Belrex vir die kameras. Parys kan met reg trots wees op hierdie onderskeie lede en instansies wat altyd getrou op hul pos is. So ook vir die organiseerders wat gesorg het dat alles seepglad verloop het.

 

 

Related Articles

Back to top button