Eerste Cholera sterfte in die Vrystaat gerapporteer
Dit beteken dat daar nou reeds 8 bevestigde gevalle van Cholera, en 1 sterfte in die Vrystaat is.
- Die eerste Cholera sterfte in die Vrystaat is aangemeld nadat drie nuwe bevestigde gevalle van Cholera Woensdag 24 Mei gerapporteer is.
Die oorledene was ‘n 33-jarige vrou van Vredefort. Sy is in die Parys-hospitaal opgeneem vir behandeling waar sy gesterf het.
Dit beteken dat daar nou reeds 8 bevestigde gevalle van Cholera, en 1 sterfte in die Vrystaat is.
Van die 8 gevalle is 6 gevalle in Vredefort aangemeld wat reeds behandel en ontslaan is, en twee nuwe gevalle in Parys. Beide gevalle in Parys is ook reeds behandel en ontslaan, is bevestig deur die Vrystaatse Departement van Gesondheid in ‘n verklaring wat pas uitgereik is (Donderdag 25 Mei).
Die departement het die oorledene se familie besoek en het die Vrystaatse LUR van Gesondheid, Me Mathabelo Leeto, haar medelye betuig aan die familie van die oorledene.
Die departement het ook weer ‘n ernstige beroep op mense gedoen om
- water te kook
- gereeld hande te was met skoon water en seep
- skoon water te gebruik wanneer voedsel voorberei word
- groente en vrugte af te spoel met skoon water.
Beide Parys en Vredefort wat binne die Ngwathe munisipale gebied val, gaan al ‘n geruime tyd gebuk onder ernstige watervoorsieningsprobleme.
Die dodetal weens Cholera in Gauteng staan reeds op 20.



