Local news

Hartverskeurend

Twee sakeondernemings in brand verwoes

Daar was vanoggend, Dinsdag 23 Mei totale verslaentheid op die toneel waar vrywilligers saam met die Ngwathe Brandweerdiens gespook het om die vlamme te blus by die Danlia Café & Take Away en Overland Liquors in Eerstelaan wat in die vroeë oggendure afgebrand het.

 

‘n Absoluut hartverskeurende toneel van twee aangrensende sakeondernemings in Parys wat in ‘n oogwink totaal vernietig is, maar ook ‘n gesig van ‘n gemeenskap wat saamstaan in tyd van nood.
MD Shipon, eienaar van die Danlia kafee het alles in die brand verloor. Niks kon uit die kafee gered word nie. Hy het aan Gazette vertel dat hy wakker geword het van die geweldige hitte, maar dit was toe reeds te laat om enigiets uit die kafee te red.
Soggens kort voor 07:00 was die kafee gewoonlik die ene bedrywigheid wanneer mense hier sou stop op pad werk toe of skool toe. Maar vanoggend was anders. Hartseer. Vir baie jare het Parysenaars die hoekkafee in Eerstelaan geken. Shipon het die kafee al sewe jaar. Mense wat lank in Parys woon, onthou nog dat die kafee vroeër jare as Peter’s Cafe bekend was.

Ook die drankwinkel was die afgelope 18 jaar n bekende baken, en het Manuel de Ponte saam met vennote die onderneming bedryf. Wat vanoggend gesien is kan nie beskryf word nie. Mense wat sonder om twee keer te dink gereageer het toe die eerste oproepe om hulp begin deurkom het.  En dit is waarvoor Manuel dankbaar is. Vir mense se omgee.

Hy sê dankie aan Tinus en Kabous wat met hul private brandweervoertuig baie gehelp het, die Ngwathe Brandweerdiens in besonder Margi, Emil Schutte van WeCare, Fanie Kruger van Security Master, Petrus en Debbie van Parys Medics, Franco Roux, die SAPD en Verkeersdiens, Paulo de Ponte en familie en vriende wat kom help het, CSS en CJ Jacobs, Parys Sekuriteit in besonder Stephan Venter, Spur wat koffie gebring het in die koue oggendure, en elkeen wie se naam dalk uitgelaat is maar wat daar was om te help.

Niemand is in die brand beseer nie.

Related Articles

Back to top button