News

Cholera-dodetal styg in Gauteng

Die oorsaak van die uitbrake word nog ondersoek

Die dodetal weens die uitbreek van cholera in Gauteng, het teen Maandag 22 Mei, reeds gestyg tot 15 in Hammanskraal in die Tshwane-metro.

Ses gevalle is ook reeds in Vredefort bevestig, maar het die departement van gesondheid Sondag 21 Mei gesê dat daar nog geen sterftes weens die siekte in die Vrystaat provinsie aangemeld is nie.  Al die Vrystaatse gevalle is suksesvol behandel en ontslaan, is gesê.

Die Vrystaatse LUR vir Gesondheid, Me Mathabo Leeto, het Sondag met onder meer verteenwoordigers van die District Outbreak Response Team,  en die uitvoerende burgemeesters van Ngwathe en die Fezile Dabi distriksmunisipaliteit vergader om maatreëls te bespreek wat in plek gestel word om die verspreiding van diarree en cholera in die Vredefort/Parys gebied te stuit, sowel as in omliggende gebiede binne die Fezile Dabi distrik en die Vrystaat provinsie.

Tydens die vergadering is gesê dat 76 mense by verskeie kliniek en hospitale in die distrik reeds gesien is met diarree infeksies, en is bevestig dat die 6 bevestigde gevalle van cholera suksesvol behandel is by die Parys en Boitumelo hospitale onderskeidelik. ‘n Toename in gevalle van diarree is sedert 8 Mei in die Ngwathe munisipale gebied gesien.

Die eerste laboratorium bevestigde geval van cholera in die Vrystaat is op 17 Mei aangemeld. Sedertdien is die provinsie, distriks en plaaslike Outbreak Response Teams geaktiveer wat ondersteun word deur plaaslike en distriks munisipaliteite en die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) asook die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes, het die woordvoerder van die Vrystaatse department van gesondheid, Mondli Mvambi, gesê.

Mvambi sê in die verklaring die span wat in die Ngwathe munisipaliteit en spesifiek ook in Vredefort werk, monitor die waterkwaliteit  van alle waterbronne wat water aan die gemeenskap voorsien, en sê ‘n omgewings risiko bepaling word ook voortdurend gedoen.

Die departement het  ‘n beroep op mense gedoen wat simptome toon, om so spoedig moontlik by hul naaste kliniek of hospitaal uit te kom. Die oorsaak van die uitbrake word nog ondersoek, maar het die Tshwane-metro Sondag al ‘n beroep op inwoners van Hammanskraal en die omliggende gebiede gdoen om nie kraanwater te drink nie.

Die Vrystaatse departement van gesondheid het na Sondag se vergadering in sy verklaring ook die gemeenskappe wat geraak word aangeraai om water te kook voordat hulle dit drink, en kos soos groente en vrugte goed te was met skoon water.

Cholera word hoofsaaklik opgedoen wanneer mense besmette water sou drink of besmette kos sou eet.

 

Related Articles

Back to top button