Sport

Voorreg vir Parys om dié spelers in aksie te kon sien

Uitstaande muurbaltalent is verlede week in Parys gesien met die South African Country District (SACD) muurbaltoernooi wat een van die hoogtepunte op die Suid-Afrikaanse muurbalkalender is. Die toernooi lok jaarliks deelnemers van regoor die land en is 'n vertoonvenster van die vaardigheid en talent van Suid-Afrika se beste muurbalspelers. Terselfdertyd bied die toernooi ook 'n platform vir spelers om hul vermoëns in ‘n taai kompetisie te toets.

Die toernooi word jaarliks geroteer tussen verskillende distrikte binne Suid-Afrika.

Vanjaar was Vaaldriehoek muurbal se beurt om die toernooi aan te bied, en het dit vir Parysenaars die geleentheid gebied om ook van die wedstryde hier te kon sien.

Die toernooi is gehou van 10 tot 13 Mei. Altesaam 30 spanne het in die mans- en dames afdelings gespeel.

Foto’s Ferdie Jordaan

Wat die toernooi so gewild maak is dat dit nie net uitstekende sportmangees bevorder nie, maar ook ‘n gevoel van samehorigheid onder die deelnemers skep.

Spelers kry geleentheid om kontak te maak met ander wat hul passie vir muurbal deel, en strategieë en tegnieke te bespreek om hul spel te verbeter.

Benewens die feit dat dit ‘n mededingende byeenkoms is, is die SACD muurbaltoernooi ook ‘n uitstekende toeskouersport.

Foto’s: Ferdie Jordaan

Onder die deelnemers wat die afgelope week hier in aksie was, was ook heelwat lede en oudlede van Parys-muurbalklub.

Hieronder tel Jurg Prinsloo wat Limpopo verteenwoordig het. Jurg is die oudste seun van wyle Elize Prinsloo, wat vir jare afrigter by Parys-muurbalklub was. Jurg het hier by die Parys-muurbalklub as skoolseun begin muurbal speel.

Nog ‘n bekende oud-Parysenaar wat hier in aksie was, was Dené van Zyl, dogter van
Morné en Delia van Zyl. Sy het Boland verteenwoordig.

Die Parysenaars Elske Garbers, Almari Claassen en Danja van Rhyn het die Noordwes-provinsie op die baan verteenwoordig,
terwyl Christiaan Dannhauser reserwe vir Vaaldriehoek was. Hy het die Vaaldriehoek verteenwoordig
in vyf wedstryde wat hy al 5 met ‘n skitterende telling van 3-0 gewen het. Christiaan is Parys-muurbalklub se huidige klubkampioen.

‘n Groot voorreg om al die spelers hier te kon sien speel.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button