NewsNews

Wonderwerkman versamel 48 000ste poskaart

Leon Keet (47) het onlangs sy 48 000ste poskaart by sy versameling van sowat 30 jaar gevoeg. Leon is bekend onder Potchefstromers as ‘n lopende wonderwerk, en wys dit ook in sy daaglikse doen en late.

Leon Keet (47) het onlangs sy 48 000ste poskaart by sy versameling van sowat 30 jaar gevoeg. Leon is bekend onder Potchefstromers as ‘n lopende wonderwerk, en wys dit ook in sy daaglikse doen en late.
Toe hy 19 jaar oud was, was hy ‘n verkeerskonstabel in Potchefstroom, maar was in ‘n ongeluk betrokke reg voor Potchefstroom Hospitaal, waarna hy breindood verklaar is.
“Ek kan glad nie onthou dat ek ‘n verkeerskonstabel was nie,” sê Leon. Hy kan wel tye van sy kinderjare onthou asof dit gister gebeur het. Hy onthou sy graad een-dag en ook hoe sy ma hom om die huis gejaag het met die belt as hy stout was.
“Hy was net vir twee maande ‘n verkeerskonstabel, toe ry ‘n dronk man in Leon vas,” sê sy pa Doompie Keet. Volgens Doompie is Leon na die ongeluk na ‘n hospitaal in Johannesburg gevlieg, maar is met sy aankoms daar, breindood verklaar.
Leon was vir amper ‘n jaar lank in ‘n koma voor hy oorgeplaas is na Potchefstroom waar hy by Mediclinic se intensiewe sorgeenheid behandel is. “Die Here het net die regte mense oor sy pad gestuur,” sê Doompie. ‘n Fisioterapeut, Anna-Marie Swanepoel, het toe vir Leon gerehabiliteer.
“Toe hy bykom na die koma kon hy nie soos ‘n babatjie beweeg nie – hy moes alles van voor af geleer het.
My dogter het in daardie stadium ‘n baba dogtertjie gehad en saam met haar het Leon van voor af begin kruip en toe geloop.” Vandag spog Leon met talle medaljes wat hy tydens Berts Bricks landloop wedlope gewen het. Ongelukkig kan Leon nie meer hardloop nie, weens onvoorspelbare epileptiese aanvalle.

“Ek wou nog altyd ‘n kapelaan geword het – al vandat ek op laerskool was, was dit my droom,” sê Leon, wat al so ver gekom het om Sondagskool te gee.
“Die Here het my gebruik – ek is God se geskenk!” Leon het ook sendingwerk gedoen waar hy op verskeie plekke gehelp het met die bou van nuwe kerke.
“Die dokters het gesê Leon sal nie ouer as 35 jaar oud word nie,” sê Doompie. Alhoewel hy steeds brein-gestremd is, loop ‘n 47-jarige wonderwerkman vandag rond en vertel mense van hoe goed God is. Wanneer hy nie besig is om die Woord te versprei nie, is Leon doenig met sy poskaart versameling wat begin het toe hy in standerd 6 (graad 8) was.
Toe Leon nog op skool was, het ‘n buurvrou ‘n klompie poskaarte van oorsee vir hom gegee. Hier het sy liefde vir poskaarte begin. Hy versamel tot vandag toe nog gebruikte poskaarte van regoor die wêreld.
Hy het ‘n kabinet in sy kamer met lêers vol van al die verskillende lande se poskaarte. Hy het ‘n kontak in Oostenryk wat vir hom 100 gebruikte poskaarte op ‘n slag stuur, in ruil vir 50 ongebruikte Suid-Afrikaanse poskaarte. Hy het ook ‘n kontak in Pole wat vir hom gereeld poskaarte stuur. “Ons herinner gereeld die mense van die kerk dat hy dit versamel,” sê Doompie, wat self ‘n posseël versameling het. “Sondag het Leon nog ‘n klompie poskaarte ontvang en sy versameling staan nou op 48 078 poskaarte.”
Sy gunsteling poskaarte is die drie-dimensionele poskaarte van Jesus se Hemelvaart, en die Laaste Maaltyd wat hy van Amerika gekry het. Hy glimlag breed terwyl hy wys hoe die poskaarte se prentjies verander soos dit gedraai word.
Enigeen wat Leon kan help met sy gebruikte poskaart versameling, kan die Herald by marianke.saayman@media24.com kontak.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button