Local news

Na pynlike babadae lyk Melienke se toekoms nou blink

Melienke is op 21 Julie 2020 in Cormed gebore, maar dit was gou duidelik dat sy 'n ernstige mediese probleem gehad het

Met haar uitbundige lag en oulike gewoontetjies kruip klein Melienke Swart van Vanderbijlpark maklik in mens se hart in. Min mense wat dié kleutertjie van 2 jaar en 10 maande ontmoet, sal kan glo dat sy van haar babadae af reeds deur diep waters en baie pyn moes gaan.

Melienke is op 21 Julie 2020 in Cormed gebore, maar dit was gou duidelik dat sy ‘n ernstige mediese probleem gehad het. Sy wou nie drink nie en het net heeltyd geslaap. Wanneer sy wel ‘n bietjie gedrink het, het sy alles weer opgebring. Na ‘n noodafspraak by ‘n pediater is sy in Emfuleni Mediclinic opgeneem waar sy 10 dae in die intensiewe sorgeenheid gelê het voordat sy na ‘n hospitaal in Alberton oorgeplaas is. Alle moontlike toetse is gedoen en uiteindelik is sy met Hirschsprung se siekte gediagnoseer – ‘n toestand waar afwesige senuweeselle in die spiere van haar grootderm veroorsaak het dat sy nie normaal kon ontlas nie. Die uiteinde was dat sy as klein babatjie ‘n kolostomie-sakkie moes kry.

Haar gesondheid het wipplank gery en haar ouers, Danie en Cynthia Swart, moes hul hele lewenswyse aanpas om seker te maak hul dogtertjie kry die nodige soort voeding en medikasie wat haar toestand vereis het. Die binnekant van hospitale in die Vaaldriehoek, Johannesburg en Pretoria het hul tweede tuiste geword. Die ouerpaar moes sterk staan om nie in duie te stort terwyl hulle hul eersgeborene se pyn en ongemak aanskou het nie.
In April 2021, op die ouderdom van 8 maande, het Melienke weer ‘n groot operasie ondergaan waartydens 90% van haar dikderm verwyder is. Haar ingewande is toe sodanig aangepas dat sy nie meer ‘n sakkie nodig gehad het nie. Die nadeel van die verwydering van so ‘n groot persentasie van haar dikderm is dat dit die absorpsie van voedingstowwe beperk. Sy sal dus vir die res van haar lewe duur aanvullings moet neem en ‘n spesiale dieet moet volg.

Melienke was verlede week vir haar sesmaandelikse ondersoek by haar spesialis in Pretoria, wat baie tevrede met haar vordering is. “Dit gaan regtig goed met Melienke. Sy ontwikkel en groei baie mooi. Sy is besig met potty training wat ook goed vorder, hoewel sy nou-en-dan nog ‘n ongelukkie kry. Ons moes ook net weer haar medikasie aanpas,” sê ma Cynthia. Melienke is sedert Januarie in ‘n kleuterskool waar sy goed aanpas en lekker maatjies gemaak het. Sy is ook baie lief vir haar juffrou. Hoewel sy die afgelope maande gereeld griep, ‘n hoes en loopneusie gehad het, meen die spesialis dit is normaal omdat haar imuunstelsel nog besig is om aan te pas, veral noudat sy aan meer maatjies as voorheen blootgestel word. Vir die kleinding wat as baba soveel struikelblokke moes oorkom, lê daar nou ‘n veel blinker toekoms voor.

Argieffoto: Melienke Swart, hier saam met haar ma, Cynthia, in 2021 in die Clinton-hospitaal in Alberton tydens een van haar vele hospitalisasies.

Melienke saam met haar ouers, Danie en Cynthia Swart.

Melienke vandag: ‘n Lewenslustige dogtertjie ondanks haar gesondheidsuitdagings.

Related Articles

Back to top button