News

Groepsgeding kom teen polisie oor Prinsloo-vuurwapens

Die nie-regeringsorganisasie Gun Free South Africa (GFSA) sê altesaam 1 066 mense is vermoor met wapens in polisiebesit wat deur kol. Christiaan Prinsloo van Vereeniging gesteel en onder meer aan bendes op die Kaapse Vlakte verkoop is.

Prinsloo was destyds saam met kol. David Naidoo, in beheer van wapens wat geoormerk was om vernietig te word, maar hulle het meer as 2 000 wapens gesteel wat onder meer in die hande van bendes in die Kaapse Vlakte beland het.

Buiten die 1 066 moorde was daar ook 1 403 pogings tot moorde en 315 misdade wat direk met die gesteelde vuurwapens verband hou.

Onder die 1 066 mense wat vermoor is tel 67 kinders. Duisende mense is ook beseer as gevolg van dié vuurwapens.

Meer as 1 100 van die wapens wat Prinsloo gesteel het is blykbaar nog soek en waarskynlik in die hande van misdadigers.

Die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sithole, en polisieminister, Bheki Cele, doen in 2019 inspeksie van vuurwapens wat geoormerk is om vernietig te word by ArcelorMittal se aanleg in Vereeniging. Foto: Lebo Chaha

GFSA, ‘n nie-regeringsorganisasie wat daartoe verbind is om wapengeweld in Suid-Afrika te verminder deur middel van voorspraak vir openbare beleid, opvoeding, bewusmaking, het vandeesweek bekend gemaak dat hy namens slagoffers en die families van slagoffers die nasionale polisiehoof en nege provinsiale polisiehoofde gaan dagvaar.

GFSA het reeds Dinsdag (9 Mei 2023) stukke by die Kaapse Hooggeregshof ingedien, waarin hul aansoek doen vir die sertifikaat wat nodig is om die groepgeding te kan voer.

Adèle Kirsten, direkteur van GFSA het tydens ‘n televisieonderhoud vroeër vandeesweek gesê die polisie moet verantwoordelik gehou word vir die vuurwapens wat veronderstel was om in die polisie se besit te wees maar tans die rondte onder misdadigers doen.

Die geaffekteerde families bestaan uit mense wat dire ken indirek slagoffer van die gesteelde Prinsloo-wapens is. Altesaam nege mense se name word in hofdokumente genoem.

Die doel van die groepsgeding is om finansiële verliging te eis as skadevergoeding vir skade wat voortspruit uit korrupsie binne die polisie en nalatigheid met die bestuur van vuurwapens in die polisie se sorge. Die minister van polisie word ook aanspreeklik gehou vir die optrede van sy werknemers.

‘n Onbekende moeder tereur oor die dood van haar seun. Foto: www.prinslooguns.co.za
Foto’s van ‘n man wat soos oud-polisiekolonel Prinsloo lyk toe gerugte in 2020 die rondte gedoen het dat hy op parool vrygelaat is en Vereeniging rondloop. Foto: Verskaf

Related Articles

Back to top button