News

Die lesse wat die Amatola my geleer het

Vir haar was die Amatola goed. 'n Diepe belewenis wat haar gedwing het om die bagasie neer te sit en asem te skep. Stil te word voor die grootsheid wat groter is as jy. Gedra deur vriendskap, gesmee in die ruheid van die Amatola-berge.

Die Amatola staproete word gereken as een van die land se taaistes, maar ook mooiste staproetes. ‘n Uitdagende 100km tussen Hogsback en King Williamstown in die Oos-Kaap met sy ryke geskiedenis en asemrowende natuurskoon. Maar hoe pynlik uitdagend die Amatola werklik vir haar sou wees, en watter lesse sy sou leer, het niks haar op kon voorberei nie, gesels fisioterapeut Stephanie Heathcote van Parys.
Stephanie is topfiks. Sy het al twee maal die Comrades gehardloop, en verskeie ander marathons. Verskeie staptopte gedoen, maar nog nooit ‘n ses dae lange staptog nie. Dit was ‘n eerste so kort voor haar 40ste verjaardag in September.

Iets wat sy wou doen – ‘n simboliese stap, want diep binne haar het sy gevoel sy moet stadiger, nader aan die skepping kom, ontslae raak van bagasie wat jy met jou saamdra op jou lewensreis.

Dit was ‘n gemaklike groep van nege wat saam die staptog sou aanpak. Saam het hulle om die kaart gesit met Dan Cornick, wat hul voorberei het op die Amatola se ongenaakbaarheid. As jy moes uit op enige stadium van die roete, sou dit lewensveranderend wees, het hy gesê, en bygevoeg – jy sal gelukkig wees as jy sein het om hulp te kry. “Jy luister, jy hoor, maar die opgewondenheid skop vas in jou kop – jy’s hier om te stap en die adrenalien pomp in jou bloed”

Dag een het uiteindelik gekom. Dertien kilometer se stap met ‘n rugsak wat 18kg weeg, oor ruwe terrein, asemrowend mooi – alles wat sy kon verwag het van die roete. Beslis nie maklik nie, maar elke treë die moeite werd.

So het die tweede dag die Saterdag aangebreek. Stephanie saam met die voorste groep, en haar swaer, Julian Rust, by die agterste groep. Teen laatmiddag moes sy ‘n draai loop. Haar groep is solank vooruit. Dit was wondermooi oomblikke – so alleen – na aan haar Skepper. En toe – met die inhaal gly sy op ‘n hoop blare. Dit was afdraande.

Deur haar oorfone kon sy die klapgeluid by haar enkel hoor. Onmiddellik het sy besef daar is fout – maar hoe ernstig haar bese-ring was het sy op daardie stadium nog nie geweet nie.

Julian en sy groep was kort daarna by haar. Hier het haar Amatola-reis van genade – van kameraderie eers werklik begin, vertel Stephanie.
Twee ure lank het hul tree vir tree die 1,8km na die ontruimingspunt afgelê. Die ‘Amatola Shuffle’ – steun-steun op haar stapstok, soms op haar stapmaats se rug, skuifel-skuifel, met Lianne Kensley, Kim le Roux, Hubert du Plessis, Will Folley en Julian, wat voor haar, agter haar, langs haar, tree vir tree by haar was. Elkeen wat die uitdaging om haar tot by die pad te kry, saam met haar aangepak het.

“Noem dit die Here se genade, noem dit adrenalien,” sê Stephanie, as sy vertel van die rustigheid wat sy ervaar het, toe sy Julian se hand op haar skouer gevoel het, en haar stapmaats soos engele om haar sien staan het. Daar was sein – net daar waar sy geval het. Hulle kon hulp ontbied. Vir Dan uiteindelik by die pad kry en die tog King Williamstown toe aandurf. tot by die provinsiale hospitaal.

Hulle kon nie geholpe kom met X-strale nie, maar in die dae en ure wat sou volg met Lianne aan haar sy, terwyl hulle gewag het by hul oornagplek, het talle genade oom- blikke die pyn help draaglik maak. totdat sy Maandag kon terugvlieg huistoe.

Die X-strale wat die Dinsdag geneem is het gewys dat vier van haar voetbeentjies gebreek was, en daar ook skade aan die liga- mente was.
Sy is in die Morningside Medi Clinic opgeneem waar sy geopereer is. ‘n Lang pad van herstel wag op haar, maar vir haar was die Amatola goed.
‘n Diepe belewenis wat haar gedwing het om die bagasie neer te sit en asem te skep. Stil te word voor die grootsheid wat groter is as jy. Gedra deur vriendskap, gesmee in die ruheid van die Amatola-berge.

Stepahnie Heathcote (links voor) saam met haar stapmaats.

Vandag weet sy – dit is eers wanneer jy stilword dat jy jou ware innerlike krag ontdek in die stilte van stilword – omring deur die liefde van haar familie se ongelooflike onderskraging wat haar anker is.

Related Articles

Back to top button