News

J.B. Marks huur kragopwekkers vir R11 miljoen

Die munisipaliteit noem dat betogings en onrus weens 'n gebrek aan water, een van die groot faktore was waarom daar dringende stappe gevolg is om te huur, eerder as te koop.

Opposisiepartye in die J.B. Marks munisipaliteit dring daarop aan dat ‘n ondersoek van stapel gestuur moet word nadat kragopwekkers teen ‘n koste van R11 miljoen gehuur is.

In plaas daarvan om die nodige drie opwekkers teen ‘n bedrag van sowat R3,2 miljoen aan te koop, is opwekkers teen ‘n koste van net meer as R1,8 miljoen per maand (vir sowat ses maande) gehuur. Die opwekkers is glo gehuur nadat kragprobleme veroorsaak het dat water nie na sommige reservoirs in Potchefstroom gepomp kon word nie.

Die VF Plus noem dat daar Dinsdag, 25 April tydens ‘n raadsvergadering van die munisipaliteit aan die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Sandile Tyatya, gevra is waarom die kragopwekkers gehuur is.

“Die waarnemende munisipale bestuurder het in die raad aangedui dat die huurkontrak ingevolge artikel 36 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) as ‘n noodmaatreël aangegaan is,” noem VF Plus raadslid, Ian de Villiers.

“Volgens hom is dit daarom nie ‘n onreëlmatige besteding nie. Hy kon egter nie aandui waarom die munisipaliteit besluit het om R11 miljoen te verspil op die huur van toerusting, terwyl dit teen R3,2 miljoen aangekoop kon word nie. Sulke wanbesteding van belastinggeld dui eerstens op moontlike korrupsie, of ten beste op erge onbevoegdheid in die bestuur van hierdie ANC-beheerde munisipaliteit,” voer De Villiers verder aan.

De Villiers noem ook dat hy in ‘n vinnige soektog op die internet kon vasstel dat die goedkoopste 100 kVA kragopwekker sowat R225 000 sou kos en die duurste een R320 000. Die 1000 kVA kragopwekker sou ten duurste 2,5 miljoen gekos het.

Dit maak sodoende nie vir De Villiers sin waarom R11 miljoen spandeer moes word nie.

Volgens J.B. Marks munisipaliteit woordvoerder, Jeanette Tshite, is die kragopwekkers gehuur omdat daar tydens die afgelope waterkrisis in Potchefstroom dringend kragopwekkers voorsien moes word.

Volgens Tshite was dit die plig van die munisipaliteit om seker te maak dat inwoners water het en moes hulle pro-aktiewe stappe neem.

Sy noem ook dat betogings en onrus een van die groot faktore was waarom daar dringende stappe gevolg is om te huur, eerder as te koop. “Ons kon nie wag dat die verkrygingsprosedures afgehandel moes word, alhoewel ons al amper begin het met die proses om die probleem op die langtermyn op te los en kragopwekkers te koop.”

Related Articles

Back to top button