News

Kragkrisis ‘n skreiende skande sê raadslid

‘n Gedeelte van Koppies Nedersetting is al langer as ‘n maand sonder krag weens skade aan ‘n transformator, en steeds is daar geen antwoorde oor wanneer die krisis opgelos sal word nie. Volgens Carina Serfontein, DA-raadslid in die Ngwathe munisipaliteit waarvan Koppies deel is, gebruik dié Vrystaatse dorp ‘n 6.6kVA transformator, en is geen ander …

‘n Gedeelte van Koppies Nedersetting is al langer as ‘n maand sonder krag weens skade aan ‘n transformator, en steeds is daar geen antwoorde oor wanneer die krisis opgelos sal word nie.

Volgens Carina Serfontein, DA-raadslid in die Ngwathe munisipaliteit waarvan Koppies deel is, gebruik dié Vrystaatse dorp ‘n 6.6kVA transformator, en is geen ander transformator geskik om in die netwerk te gebruik nie. Sy sê dit maak die vervanging daarvan bykans onmoontlik, omdat Koppies een van
net enkele dorpe in die land is wat die transformator gebruik.

Boonop is dit die tweede keer in ‘n kwessie van maande dat daar ‘n probleem met die transformator is. Serfontein het verlede week in ‘n verklaring gesê dat selfs al sou daar ‘n vervangings-transformator beskikbaar wees, skuld die Ngwathe munisipaliteit klaarblyklik nog geld op vorige aankope, en word volle betaling vereis voordat aflewering gedoen sal word. Sy sê mense word van bakboord na stuurboord gestuur sonder antwoorde. As raadslid kry sy ook geen antwoorde nie, en het sy einde ten laas op 15 April die uitvoerende burgemeester van Ngwathe vir antwoorde gevra.

Hoewel die burgemeester onderneem het om terug te kom na haar toe met antwoorde, is daar ‘n week later steeds geen terugvoer nie, sê Serfontein.
“Dit is ‘n skreiende skande dat inwoners en selfs raadslede blatant geïgnoreer word”, sê sy.

Die DA noem in sy verklaring dat die oplossing eenvoudig is dat Ngwathe skaars toerusting in voorraad moet hou, maar dat daar prontuit gesê word dat dit nie gedoen word nie uit vrees vir diefstal.

Die DA het reeds vrae oor die dorp se kragkrisis in die wetgewer gevra, maar sal hom nou tot Cogta wend om die situasie opgelos te kry, het Serfontein gesê. Gazette het vroeër ook berig van die dorp se knaende waterprobleme. Omdat daar nie afsluitkleppe is nie, moet die dorp se totale watervoorsieningsnetwerk toegedraai word, telkens wanneer ‘n waterlek herstel moet word. Die kleppe is gesteel, en nie weer vervang nie.

Serfontein sê groot hoeveelhede water gaan verlore omdat waterlekke nie die nodige en dringende aandag kry nie. Hoewel daar van tyd tot tyd instandhoudingswerk by die aanleg gedoen word, is dit ‘krisisbestuur’ en nie pro-aktiewe optrede nie.

Met die suiweringsaanleg wat nie meer voldoende kan voorsien in die waterbehoefte van Koppies en Kwakwatsi se inwoners nie, gebeur dit dat die netwerk ‘toegedraai’ word wanneer opgaardamme leeg is.Ook deur die dag is krane onvoorsiens droog, sê sy.

Watersuiwering word verder geaffekteer deur Eskom beurtkrag omdat die noodkragopwekker by die Koppies-aanleg nie kan verseker dat pompe aanhou werk tydens kragonderbrekings nie, omdat dit té duur is om ure aaneen te laat loop.

Related Articles

Back to top button