News

Hof beslis in Eskom se guns oor beurtkrag

Selfs al het die Vrystaatse dorp, Frankfort in die Mafube munisipale gebied, gereeld genoeg sonkrag kon opwek om Eskom-beurtkrag vir die dorp vry te spring, het die hooggeregshof in Johannesburg nietemin beslis dat dié dorp nie beurtkrag sal vryspring nie.

Die hof het die private maatskappy Rural Maintenance se dringende hofaansoek om beheer oor beurtkrag in die munisipale gebied te behou, terwyl Nersa ‘n geskil tussen hulle en Eskom besleg, met koste van die hand gewys, omdat die munisipaliteit versuim het om ‘n verklaring in te handig om die aansoek te ondersteun.

Sonder die verklaring het dit beteken dat Rural Maintenance as agent van die munisipaliteit nie gemagtig is om die aansoek in te dien nie. Boonop word Rural wat al vir 11 jaar die elektrisiteitsverskaffing namens die munisipaliteit bestuur, se 25-jaar kontrak tans deur die nasionale tesourie hersien, is gesê.

Die geskil tussen Eskom en Rural Free State het gevolg nadat Rural se aansoek om toepassing van self-beurtkrag op 25 Januarie vanjaar deur Eskom goedgekeur is, sê die kragreus in sy verklaring. Self-beurtkrag laat kwalifiserende munisipaliteite toe om kritieke ladings soos rioolwerke en waterpompe te beskerm teen kragonderbrekings. Gevolglik het Rural self-beurtkrag vanaf 1 Februarie begin toepas, maar sê Eskom het probleme tussen die twee partye ontstaan toe Rural Free State sogenaamde “voiding” ingestel het.
Dit het volgens Eskom daarop neergekom dat beurtkrag volgens die goedgekeurde skedules gedurende dagure nie geimplementeer is as Rural se sonkrag-PV-aanleg in optimale werking was nie. Eskom sê hy het hierdie voorstel herhaaldelik verwerp omdat dit strydig is met die Nersa-goedgekeurde praktykkode. Gevolglik het Rural die dringende hofaansoek gebring wat op 5 April vanjaar aangehoor is.

Eskom het sy rede vir beswaar so verduidelik:
“Kom ons sê ‘n huishouding het son- panele, maar nie ‘n batterystoorstelsel nie, beteken dit dat hoewel die installasie bydra tot ‘n vermindering in die behoefte aan elektrisiteit wat aan die huishouding verskaf word, is die opwekkingskapasiteit nie voldoende om die totale elektrisiteits- aanvraag van die huishouding te dek nie. Wanneer Eskom-krag gedurende dagure onderbreek word terwyl die sonkraginstallasie in optimale werking is, is die sonkrag- stelsel steeds in staat om in sommige van die huishouding se energiebehoeftes te voorsien.

Alhoewel die gesin tydens beurtkrag steeds ligte en sommige toestelle kan aanskakel, sal hulle beperk word deur die toevoer van hul sonstelsel. sê Eskom. “As hierdie huishouding batteryberging vir hul sonstelsel gehad het, of as hulle ‘n bykomende kragbron gehad het wat voldoende is vir hul aanvraag, soos ‘n kragopwekker wat hulle net tydens kragonderbrekings sou aanskakel, sou hulle beter toegerus wees om voort te gaan tydens ‘n kragonderbreking soos beurtkrag,” is bygevoeg.

“In die geval van Frankfort is die opwekkingskapasiteit van die sonkragaanleg nie voldoende om al die elektrisiteitsbehoeftes van die dorp tydens beurtkrag te dek nie,” sê Eskom. “Selfs gedurende dagure wanneer die aanleg optimaal werk, word ‘n gedeelte van die dorp se elektrisiteitsbehoeftes steeds deur Eskom voorsien. Soos in die res van die land, is die Eskom-voorsiende elektrisiteit aan Frankfort ook onderhewig aan beurtkrag.”

“As Rural Free State die Eskom-voorsiende gedeelte kon vervang deur alternatiewe elektrisiteitsbronne, soos elektrisiteit vanaf batteryberging of ander opwekkingsfasiliteit wat slegs tydens ‘n kragonderbreking gebruik word, sou hulle die behoefte aan beurtkrag kon uitskakel,” het Eskom gesê.

Energiekenners meen egter dat as die Eskom-argument slaag, dit beleggings deur die private sektor in onafhanklike kragverskaffingsprojekte kan laat opdroog omdat dit nie ekonomies sinvol is nie.

 

 

Related Articles

Back to top button