Koperkabeldiefstal: Verhoor van vyf begin in Mei
Die arrestasie van die 5 is in 2022 deur die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad ondersoeke gemaak.

Die verhoor van die vyf mans van Parys wat tereg staan op klagte van diefstal, die besit van vermoedelik gesteelde goedere en peuter met noodsaaklike infrastruktuur sal op 25 Mei in die streekhof in Parys begin. Dries Jordaan, Jan Ntshidi, Zweli Nxanga, Tsietsi Lucas Morobe en Hilton Dannis Wall, is in 2022 deur die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad ondersoeke, saam met die K9-eenheid van Sasolburg, en die Toegewysde Provinsiale Tweedehandse Goedere Beampte (DS), in samewerking met Telkom, Eskom Transnet en MTN, gearresteer.
Valke-woordvoerder, kapt. Christopher Singo, het met die arrestasie in 2022 bevestig dat sekere skroothandelaars geïdentifiseer is wat na bewering van die gesteelde eiendom sou ontvang het. Singo het gesê Eskom koperkabel, Eskom aluminium, Telkom koperkabel en munisipale kabel met ‘n geraamde waarde van meer as R60 000 is gekry nadat die polisie Salvage Junkie Scrap Metal in Februarie 2022 besoek het.
Terwyl polisiebeamptes nog by die handelaar besig was, het drie sekuriteitsbeamptes, Ntshidi, Nxanga en Morobe, wat klaarblyklik ten tyde van die arrestasie Eskom-persele bewaak het, daar opgedaag met beweerde gesteelde koperkabel met ‘n geraamde waarde van R8 000. Die kabel is glo by Eskom-persele gesteel.
Borgtog is aan al vyf verdagtes toegestaan maar is Jordaan sedertdien ook in hegtenis geneem op ‘n klag van moord. Hy is steeds in aanhouding. Die moordsaak is nog nie in die hof aangehoor nie.



