Local news

Paartjie se moordenaars gaan lewenslank sit

"Die vonnisoplegging sal my ma en Michael nie terugbring nie, maar geregtigheid het geskied en ons kan nou probeer aanbeweeg," sê dogter.

“Na ‘n jaar en agt maande het regverdigheid nou geskied. Mamma kan nou gaan rus.” Dit is die woorde van me. Maryke Liebenberg, dogter van wyle mev. Annie Liebenberg, wie se moordenaars vroeër die maand tot lewenslange tronkstraf gevonnis is.

Mev. Liebenberg (62) en haar lewensmaat, mnr. Michael Zantow (64), is in Augustus 2021 grusaam in Sasolburg vermoor. Familielede wat bekommerd geraak het omdat hulle die paartjie die betrokke naweek van 20 tot 22 Augustus nie telefonies kon bereik nie, het ondersoek by hul huis laat instel, waarna Annie se liggaam met verskeie steek- en kapwonde in ‘n stoorkamer op hul erf aangetref is. Michael se bebloede liggaam is in ‘n tuinhuisie op sy ma se nabygeleë erf gevind.

Die paartjie was mekaar se jeugliefde op hoërskool, maar het deur die jare kontak verloor en eers weer kort voor hul moord as alleenlopers herontmoet.

Na die aanval het die moordenaars in die paartjie se Volkswagen Jetta en onder andere ook met R1 800 kontant, rekenaars, ‘n i-pad, ‘n mikrogolfoond, ‘n kompressor en ‘n selfoon gevlug. Danksy flink polisiewerk is twee verdagtes, Stanley Lingena (38) en Sithembiso Hlongwane (28), kort na die moorde in Zamdela in hegtenis geneem. Van die gesteelde goedere is in die toilet van Lingena se huis gevind. Hy het as tuinier vir die paartjie gewerk maar is weens beweerde diefstal afgedank. Die paartjie het hom egter jammer gekry toe hy kos kom bedel het en het hom kort voor die moorde glo weer aangestel.

Na Lingena en Hlongwane se arrestasie en skuldigbevinding is hulle onlangs in die Hooggeregshof in Bloemfontein tot dubbele lewenslange tronkstraf weens die moorde gevonnis. Elkeen is ook ‘n verdere 30 jaar opgelê vir roof met verswarende omstandighede.

Maryke het groot lof vir die ondersoekbeampte, konst. Chrissie van der Linde, en die staatsaanklaer, adv. Antoinette Ferreira, vir die deeglike werk wat hulle in die saak ingesit het. “Ons families kon nie vir ‘n beter regspan gevra het nie. Hulle het regtig namens en vír Mamma en Michael baklei,” sê sy.

Die verlange na haar ma is egter steeds oorweldigend. “Ek mis ons kuiers, ons laf wees, ons ‘pool’ speel, ons bakleiery, ons liefde en al die baie aande se lekker TV kyk. Ek mis Mamma se lag en Mamma se reuk. Ek wens ek kon haar net nog een keer sien en vashou en nooit, ooit laat gaan nie. Die vonnisoplegging sal my ma en Michael nie terugbring nie, maar geregtigheid het geskied en ons kan nou probeer aanbeweeg,” sê Maryke.

Wyle Michael Zantow.
Wyle Annie Liebenberg.
Die vermoorde paartjie van Sasolburg, Annie Liebenberg en Michael Zantow 

Related Articles

Back to top button