Vaalrivier-herstelplan kan lei tot volhoubare toerisme
Gazette sal volledig verslag doen oor die minister se besoek in die eersvolgende uitgawe.
Die minister van toerisme, Patricia de Lille, het gister tydens ʼn besoek aan toerisme-oorde in Parys en omstreke onderneem om ʼn volhoubare herstelplan vir toerisme te steun.
Dit is in reaksie op groot skade wat onlangse vloede aan oorde op die oewer van die Vaalrivier aangerig het. Die besoek het op uitnodiging van die VF Plus plaasgevind. Die minister het tydens ter plaatse besoeke aan verskeie oorde eerstehands die enorme skade aan die oorde ervaar.
Die minister is ook toegelig oor die omvang van nie net die fisiek waarneembare skade nie, maar ook van die negatiewe rimpeleffek op werkskepping en die plaaslike ekonomieë in die geraakte gebiede vanaf Gauteng tot in die Noord Kaap.
Gemeenskappe aangrensend tot die Vaalrivier is grootliks afhanklik van toerisme- en landbou-aktiwiteite vir ekonomiese oorlewing.
Die VF Plus het ook ʼn vergadering tussen geraakte belangegroepe en die minister gefasiliteer tydens die besoek.
Daar is tydens die vergadering ooreengekom om eerstens ʼn praktiese herstelplan op te stel vir spoedige implementering. Die onderskeie belangegroepe sal gesamentlik strategiese beplanning doen vir die implementering vir die “Vaalrivier-herstelplan”.
Die plan sal vroeg in Julie aan die ministerie voorgelê geword in ʼn opvolgvergadering in Bloemhof in Noordwes.
Die doelwit van die plan is om verligting te bring vir toerisme-ondernemings wat skade gelei het om onder meer werkverliese te beperk en om ʼn bloudruk te ontwikkel vir die volhoubare herstel van die toerisme-sektor aan die oewers van die Vaalrivier.
Die minister het onderneem om met die pas aangestelde minister van elektrisiteit, Sputla Ramokgopa, in verbinding te tree om ʼn moontlike grasie vir die geraakte toerisme-ondernemings te beding om vir ʼn tydperk verlaagde diensfooie aan Eskom te betaal totdat hulle weer ʼn inkomste kan genereer.
Die VF Plus verwelkom minister De Lille se praktiese aanslag en bereidwilligheid om met die plaaslike belangegroepe saam te werk en in te gryp by die huidige krisis, sowel as om die volhoubare ontwikkeling van die toerisme-sektor in die geraakte gebiede teweeg te bring.
Die VF Plus sal voortgaan om ʼn konstruktiewe bydrae te lewer tot die beskerming en ontwikkeling van die toerismesektor om te verseker dat die potensiaal van die sektor ten volle ontsluit word tot voordeel van die land.