Local news

Dogtertjie met outisme vind haar unieke stem ten spyte van struikelblokke

Anzette is eers op vyfjarige ouderdom met outisme, intellektuele gestremdhede en serebrale disfunksie gediagnoseer en toon vanjaar ongelooflike vordering

In haar jong lewensreis waar sy al baie berge moes oorwin, stap die stralende Anzette Grimbeek (6) haar eie unieke wonderwerk-belaaide pad waar sy haar lig daagliks skyn.

Anzette is eers op vyfjarige ouderdom met outisme, intellektuele gestremdhede en serebrale disfunksie gediagnoseer en toon vanjaar ongelooflike vordering vandat sy by The Olive Tree ‘n skool vir kinders op die outisme spektrum aangesluit het.

Anzette Grimbeek is op 5 met outisme gediagnoseer. Sy het al ‘n lang pad gestap en toon daagliks vordering ten spyte van uitdagings.

April is nasionale outisme maand en dit nie net belangrik om die publiek bewus te maak van outisme nie, maar ook dat mense outisme aanvaar en verstaan wat dit alles behels. Anzette ervaar die wêreld anders, maar dit is juis in haar uniekheid waar sy ‘n sonstraal in almal om haar se lewens is.

Haar ma, Antoinette, vertel dat sy gesukkel het om swanger te raak en dat Anzette se geboorte ‘n wonderwerk was.

“My ginekoloog het ons verwys na ‘n fertiliteitskliniek in Pretoria. Daar het ons twee kunsmatige inseminasie prosedures en In-vitro-bevrugting voltooi waarna Anzette vir ons gegee is,” verduidelik sy.

Op fisiese vlak is Anzette sonder toonnaels en oogwimpers gebore. Haar ontwikkeling was baie stadig en sy het eers op twee jaar begin loop. Sy het arms baie rondgeklap en geswaai.

“Sy het gesukkel om te sluk, te kruip en te sit. Haar kop het ook gedurig na een kant toe gehang,” noem haar ma.

Anzette pas goed aan vandat sy in ‘n kleiner klas by ‘n nuwe skool is.

Eers na herhaaldelike afsprake en besoeke aan spraakterapeute, arbeidsterapeute en neuroloë kon daar vasgestel word wat Anzette se toestand behels.

Dr. Gregory Lamb, pediatriese neuroloog van die NWU, het haar met outisme en serebrale disfunksie gediagnoseer.

Dit was vir Antoinette ‘n belangike stap om Anzette se toestand te kon verstaan en ‘n pad vorentoe te kan bepaal.

Sy was eers in ‘n normale kleuterskool maar die groepsdinamika was moeilik vir haar om by aan te pas.

“Sy kan nie in ‘n groep funksioneer nie. Alles lyk goed deur die dag, maar as sy by die huis kom dan kan sy haar “masker” laat val en dan wys sy haar ware emosies. Ek kon sien dit is baie moeilik vir haar omdat sy dan emosionele uitbarstings oor klein goed sou hê. Dit het my hart baie aangeraak,” vertel haar ma.

Anzette saam haar onderwyser, Lizahne Luchies-Louw. Foto: Facebook.

Hierdie ses-jarige het vanjaar dadelik aanklank gevind by haar onderwyser, Lizahne Luchies-Louw, waar hulle ‘n hegte band gevorm het.

“Anzette wou nooit skool toe gaan nie nie en nou kan sy nie wag om skool toe te gaan nie,” vertel haar ma.

Lizahne stem saam in dieselfde asem dat Anzette merkwaardige groei getoon het vanjaar.

“In die begin was sy verskriklik skaam en teruggetrokke en wou nie deel met enige iemand nie. Sy het ‘n maatjie gekry en toe hulle mekaar begin motiveer. Sy speel nou al met karretjies en dinosourusse, en voorheen het sy net in haar eie hoekie gesit. Haar selfvertroue het ongelooflik gegroei. Om daardie ontwikkeling te kan beleef is ‘n groot bederf. Die Here seën my om haar groei te sien as kind.”

Anzette het ook ‘n jonger sussie, Franzelle (4) waarmee sy ook baie goed oor die weg kom.

Anzette toe sy vanjaar in Januarie 6 geword het.

Related Articles

Back to top button