R30: Motor weer in die water
Paasnaweek bring ook hartseer vir geliefdes met verskeie botsings op die land se paaie.

Die afgelope Paasnaweek het ook baie hartseer vir families gebring. Vrydagoggend het ‘n 59-jarige man in ‘n botsing sowat 10km buite Parys op die R59 gesterf toe die motor wat hy bestuur het trompop met n vragmotor van n vervoermaatskappy gebots het.
Die motorbestuurder was van Sasolburg en was onderweg na Parys toe die ongeluk gebeur het. Hy is kort na die ongeluk in ‘n hospitaal in Vaalpark oorlede. Hy was alleen in die voertuig. Die vragmotorbestuurder is nie beseer nie.


Vroeër die oggend het ‘n motorfietsryer gesterf in ‘n botsing met ‘n voertuig op die R59 naby die Truck Stop. Die bestuurder van die motor, Luzaunne van Tonder, is per ambulans na die Fezi Ngubentombi provinsiale hospitaal in Sasolburg vervoer. Sy was teen Gazette se druktyd nog in die hosptiaal en sou na verwagting Woensdag na die Boitumelo-hospitaal oorgeplaas word vir chirurgie aan haar gewrig.
Maandagaand is ‘n man sowat 20km buite Viljoenskroon op die R76 oorlede toe die voertuig waarin hy en nog ‘n insittende was, ‘n vlakvark in die pad getref het. Die ander insittende van die voertuig is nie beseer nie.
Vroeër die middag het ‘n bus en ‘n voertuig op die N1 noord net voor Heuningspruit gebots. Ses pasiënte is per ambulans van die toneel na die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad vervoer.
‘n Motor het Dinsdag in die vroeë oggendure in die water van ‘n pan langs die R30 tussen Bothaville en Allanridge beland. Al vier die insittendes kon veilig uit die water gehaal word. Dit volg nadat daar op 31 Maart ook hier ‘n voertuig in die water beland het.
Motoriste moet asseblief ook daarop let dat daar steeds water oor die pad loop op die R59 tussen Viljoenskroon en Bothaville.






