Local news

Gangpraatjies bring hul tot voor die kansel

...want "jy weet net wanneer dit die regte een is."

Daar in die gang van die gebou waar sy gewerk het, het Carel Papenfuss vir Louise die eerste keer gesien, en net daar voor sy studentemaats gesê – met dié meisie gaan hy trou. Sy het dit afgemaak as gangpraatjies. Maar hulle het kontak gehou, en vier jaar later was hy terug in Pretoria – dié keer om haar om haar hand te vra.

Liefde met die eerste oogopslag wat oor jare net gegroei het “tot mens so verstrengel raak in mekaar, en die groei na mekaar,” sê Louise.

Vrydag, 31 Maart was dit al 50 goue jare van saamwees. Van vasbyt. Met geduld en respek, en genade van Bo wat die gom is van bymekaar bly.

“Ja, jy stamp kop, en soms voel jy jy verdien ‘n medalje vir die aanhou, maar jy byt vas” sê die twee.

Na hul troue was hul nog twee jaar in Pretoria gevestig, waarna die Vrystaat hul tuiste geword het. Reitz en Bothaville se wêreld, en later Parys waar hul die afgelope 43 jaar bly.

Carel het al die jare met veevoer gewerk nadat hy landbou studeer het, en ook ‘n ruk geboer het. Louise het vir departement vervoer gewerk. Vier kinders is vir hulle gebore – Francois, Jaco (alom bekend as Jak de Priester), Ronel en Mariëtte.

Toe die kinders groot en uit die huis was, het Louise in die spreekkkamer van dr. Prinsloo en die prokureursfirma Du Toit & Mandelstam onderskeidelik gewerk. Nou is hul tyd hul eie, en wanneer die langpad roep, pak hulle maklik hul tasse – reis die land vol want ‘n ouma- en oupa-hart trek ‘n punt na ses kleinkinders.

En as daar iewers ‘n perdeskou is, is Carel daar. “Hy’s mos op ‘n perd se rug gebore,” skerts Louise. Saterdag was hy juis weer op ‘n plesierrit in die Koepel, vertel sy, want Carel se liefde vir perde lê diep. Vir jare was hy betrokke by die dorp se destydse skoukomitee en die saalperdkampioenskappe, en is hy ook ‘n beampte wat steeds by perde- skoue van hier tot in Bloemfontein help.

Maar waar jy hul sien, is hul saam – twee harte en twee siele verstrengel – want “jy weet net wanneer dit die regte een is.”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button