Local news

Van oorgewig tot Ystervrou

Sy is vandag 26kg ligter as wat sy was en het onlangs die moordende ystermankompetisie voltooi.

Elzana Swanepoel (50), ‘n driekampatleet van Meyerton, het vyf jaar gelede ‘n keerpunt bereik waar sy besluit het dat sy eenvoudig gewig móét verloor of basta!

‘n Paar jaar later (en ‘n volle 26kg ligter) het Elzana 5 Maart vanjaar haar lewenslange droom om die Ironman-driekamp te voltooi, verwesenlik.

Elzana het nie alleenlik die moordende driekamp by Nelson Mandelabaai, wat ‘n 3.8km-swem, ‘n 180km-fietsrit en ‘n 42,2km-wedloop insluit, binne die toegelate tyd voltooi nie, sy het ook 22ste in haar ouderdomskategorie geëindig!

Elzana Swanepoel by die eindstreep van die Ironman-driekamp. Foto: Verskaf

Elzana sê sy het ‘n paar jaar gelede besluit om haar lewenstyl te verander ter wille van haar perd en haar familie.

Elzana, ‘n kranige perdryer, sê sy kon voel hoe haar perd, Ichan, swaar trek onder haar liggaamsgewig en het toe besluit om ‘n gesonder lewenstyl te volg en gesonder te eet en sodoende haar gewig te verminder.

Die oudpolisievrou en voormalige perdry-afrigter, het eers begin stap.

Die stappie het in ‘n draffie ontaard en kort voor lank het sy gehardloop, fiets gery en geswem.

Elzana se man, Pierre Swanepoel, ‘n kranige Comrades-atleet van die Meyerton-atletiekklub wat ook baie ure per week oefen, het haar langs die pad gehelp en aangespoor.

Elzana Swanepoel het met ‘n gesonde eetplan en gereelde oefening 26kg verloor. Foto: Verskaf

Nadat Elzana twee half-Ironman-kompetisies (soortgelyk aan die volle Ironman maar korter afstande) voltooi het, het sy besluit die tyd het aangebreek om die volle Ironman aan te pak.

Sy droom al jare daarvan.

Om haarself vir die kompetisie voor te berei het Elzana tussen 14 uur en 22 uur per week geoefen.

Oor naweke moes sy dikwels tussen 120km en 160km fietsry, gevolg deur 2km – 5km hardloop (direk nadat sy van die fiets afgeklim het).

Sondae het sy by Bass Lake gaan swem om haar liggaam voor te berei vir die uitdagings wat die Ironman aan haar sou stel.

Al die harde werk het 5 Maart vrugte afgewerp toe Elzana die 3.8km-swem in ‘n indrukwekkende tyd van 00:14:27 voltooi het.

Sy het die fietsrit van 180km in ‘n tyd van 07:02:44 voltooi en die marathon in ‘n tyd van 06:25:48. Elzana het 14:05:31 geneem om die volle Ironman te voltooi – baie vinniger as die toegelate 17 uur en sy het boonop drie ure oor gehad om te spaar.

Elzana Swanepoel tydens die fietsry-gedeelte van die Ironman-driekamp. Foto: Verskaf

Sy wil graag weer aan die driekamp deelneem en droom al klaar van volgende jaar se Ironman.

Elzana sê sy wil nooit weer teruggaan na waar sy vandaan kom nie.

“Ek was op die rand van suikersiekte, het gesukkel om asem te kry en my cholesterol was gevaarlik hoog,” vertel sy.

Volgens Elzana is dit moontlik om gewig te verloor deur jou eetplan aan te pas en gereeld te oefen.

Sy waarsku teen kitsdiëte en vertel hoe haar gewig gereeld wipplank gery het in die dae toe sy nog diëte gevolg het.

Elzana meen dit is beter om gewig stadiger en volhoubaar te verloor met behulp van die regte eetplan en ‘n gesonde lewenstyl. Elzana glo daarin om porsiegroottes te verminder, gesonder kosse te eet en weg te bly van gemorskosse, insluitend sjokolade en aartappelskyfies.

Die belangrikste is egter om aktief te bly en gereeld te oefen.

“Konsekwentheid was die grootste sleutel tot my sukses. Dit is belangrik om gereeld te oefen. Jy kry dae wat jy moeg is en jy nie lus voel nie.

“Op daardie dae moet jy uitgaan en doen wat jy moet doen, al doen jy net ‘n gedeelte van dit wat jy moet doen. Jy moet konsekwent bly met jou oefening. Sodra jy ‘n paar dae afvat, raak jy lui en dit is dan wanneer jy tou opgooi,” sê Elzana.

Elzana sê sy sou nie hierdie mylpaal kon behaal het sonder die hulp van haar afrigter George Winship van PE Mustangs nie.

Hy het haar die laaste jaar gehelp met oefenprogramme en elke week gekontak om te hoor hoe dit gaan.

Elzana Swanepoel het oor die afgelope paar jaar ‘n gedaantewisseling ondergaan. Foto: Verskaf

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button