Local news

In dié galery word kuns geleef

Omdat dit 'n werkende galery is, word aandag daaraan gegee om die liefde vir kuns ook met ander te deel.

So met die instap by die Manna Art Werkende Kunsgalery in Waterstraat, val die kleurvol gedrapeerde boom voor die galery jou op. Jy besef gou hier is veel meer as die kunsverskeidenheid wat jy sien in dié klein galery. Dit is ‘n galery met persoonlikheid. Waar een en elkeen welkom is – of jy ‘n leke kyker of kunskenner is.

Galery-eienaars Hendrik en Marita Mörsner leef hul hartspassie wat jou opnuut waardering gee vir die gawe om te kan skep.
Hendrik se beeldhou-talent is gevorm uit sy jarelange ervaring as taksidermis wat hom ‘n kennersoog vir detail gegee het. Sy besondere werke kan in verskeie museums oor die wêreld gesien word.

Sy uitsonderlike talent word deur Marita aangevul met haar besondere vermoë om balans en eenheid te skep met die uitstal van ‘n verskeidenheid van kunstenaars se werke in die galery.

Galery-eienaars Hendrik en Marita Mörsner.

Van die kunstenaars wie se werke hier gesien word is dié van Danie Smit (beeldhouer en skilder met ‘n impressionistiese styl), Roy Sarkin (juwelier/beeldhouer), Tony Fredrikson (beeldhouer), Sonja Smeyers (beeldhouer), Kriek Hermens (skilder met verskeie verfmediums), Elaine Britz (skilder), Faan Voges (beeldhouer), en plaaslike kunstenaars, Riaan (skilder) en Lourens van Wyk (skilder).

Omdat dit ‘n werkende galery is, word aandag daaraan gegee om die liefde vir kuns ook met ander te deel. Daarom die gereelde kunsklasse wat voortaan weekliks aangebied sal word, en waarby plaaslike kunstenaars betrek word om mense die geleentheid te gee om hul hand aan ‘n verskeidenheid kunsvorme te waag.

As jy nog nie planne het vir die Paasnaweek nie, maak ‘n nota in jou dagboek van die beeldhouklasse wat op 4 en 6 April by die galery aangebied word wat jou aan hierdie kunsvorm sal bekendstel. In Hendrik se woorde – “Gee vir iemand ‘n stuk klei, en jy sal verbaas wees wat daaruit kom. Daar is nie iets soos verkeerde kuns nie. Elke kunswerk is uniek.”

Die galery is oop Donderdae tot Saterdae 09:00-16:00 en Sondae 11:00-14:00.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button