Local news

Samesprekings met Rand Water gehou oor Heilbron se waternood

Noodmaatreël: "Ons probeer by 'n punt kom waar almal somtyds sal water kry, en nie soos nou waar sommiges altyd, and ander net soms of glad nie water het nie," sê Vryheidsfront Plus raadslid Phillip van der Merwe.

Die Ngwathe munisipaliteit sal op 31 Maart samesprekings met Rand Water hou in ‘n poging om dringende oplossings te probeer vind vir Heilbron se voortslepende watertekort. Die dorp wat deur Rand Water van water voorsien word, gaan reeds ‘n geruime tyd gebuk onder ernstige watertekorte. Pleks van 8ML water per dag kry Heilbron steeds net 5ML.

Raadslede van Heilbron het vroeër die week bymekaar gekom om dringende noodplanne te probeer maak.

“Ons probeer by ‘n punt kom waar almal somtyds sal water kry, en nie soos nou waar sommiges altyd, and ander net soms of glad nie water het nie,” sê Vryheidsfront Plus raadslid Phillip van der Merwe.

Van der Merwe het gesê om dit haalbaar te maak is daar geen ander manier as om alle uitvloei uit reservoirs te stop sodat genoeg druk opgebou kan word om ook hoogliggende dele van die dorp van water te kan voorsien wanneer die water dan weer oopgemaak word. Gevolglik sou Heilbron vanaf Woensdag vir twee dae nie water hê nie, het raadslid Van der Merwe gesê.

Hy het ook genoem dat watertenks intussen op strategiese plekke geplaas sou word, en ‘n noodwaterpunt by die Total Garage in Heilbron sal wees waar inwoners waterhouers tussen 07:00 en 17:00 vol water kan maak.

Ook in Parys het die daaglikse leë krane oor lang ure Parysenaars weer eens vanaf verlede week warm onder die kraag gehad. Die wateraanleg produseer tans net ‘n derde van die daaglikse waterverbruik, deels weens Eskom beurtkrag en knaende kragonderbrekings, wat na verwagting deur die winter sal voortduur.

Die ander rede is die tydrowende maar noodsaaklike herstelwerk by die aanleg, wat onder meer werk aan die sandfilters en besinkingsdamme sou behels.

Gevolglik is waterbeurte deur die munisipaliteit ingestel, maar inwoners kla Ngwathe hou hom nie by die beplande waterbeurte nie, blykbaar as gevolg van onvoorspelde waterlekkasies en die ontydige kragonderbrekings.

DA-raadslede, gesteun deur die VF Plus, vra al ‘n geruime tyd vir ‘n bykomende bron van gesuiwerde water. Een moontlike oplossing is om die bestaande Trident modu-lêre aanleg, wat in onbruik staan, te herstel. Die aanleg kan op sy eie 10 ML gesuiwerde water per dag produseer. “En dit het inderdaad, sedert 2017 toe dit in werking gekom het,” sê DA-raadslid Saal de Jager. Drie jaar lank het dit verseker dat Parys genoeg drinkwater het, totdat die vorige munisipale bestuur besluit het om die instandhoudings-ingenieurs se kontrak te laat verval, en die hoogs gesofistikeerde aanleg self te bedryf,” sê hy. Die gevolg was dat waterproduksie binne maande begin afneem het as gevolg van swak bestuur.

Na herhaalde versoeke deur De Jager en ander opposieraadslede het ‘n kenner in Februarie die aanleg besoek om vas te stel of die Trident-aanleg herstel kan word. ‘n Kwotasie is aan die munisipaliteit gegee, maar oënskynlik nog geen terugvoer nie.
Hoewel De Jager van mening is dat die kwotasie dalk hoog is, sê hy Ngwathe moet aandring op ‘n konserwatiewe kostebere- kening, en dan dringend fondse kry vir ‘n gewaarborgde betaling.

Die voorstel is reeds aan senior amptenare en aan Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, gemaak.

Related Articles

Back to top button