Local news

Kruis-dra in die hart van die Vredefort Koepel

"Niemand hoef gevra of gesoebat te word om enigiets te doen nie. Dis so lekker om in die dorp te kom en mense te kry wat besig is om te verf, gras te sny, te bou, versierings te maak, noem dit."

“Vredefort? O ja, die dorp waar die Kruistog gehou word!”
Dit is hoe Vredeforters glo daar binne ‘n paar jaar van hulle dorp gepraat sal word.

Vir meer as ‘n maand word daar reeds gewerskaf om die dorp gereed te maak vir hul tweede Kruistog op Goeie Vrydag. Verlede jaar het nagenoeg 1 500 mense aan hierdie unieke Paasfeesviering in die Noord-Vrystaat deelgeneem, en vanjaar word daar meer as 2 000 mense op 7 April by Vredefort se sportgronde verwag.

Mense wat nie verlede jaar die Kruistog kon meemaak nie, word aangeraai om beslis nie hierdie besondere geleentheid te mis nie!

Juan Greeff, koördineerder van die Kruistog, vertel: “Daar is iets wonderliks wat hierdie Kruistog aan ons gemeenskap doen. Mense sit vir ure elke dag en vou blommetjies vir die nuwe vlot wat vanjaar deel van die optog gaan wees.”

“Ons is dankbaar vir die oop harte van ons gemeenskappe wat bydra en fondse borg vir die dag. Ons praat skaars van iets wat nodig is, dan daag iemand op wat dit borg of reël”.

“Dit is vir ons die bewys dat God die verrigtinge en die dag seën. Ons as Vredefort-gemeenskap is bevoorreg om dit tot Sy eer te kan aanbied.”

Mense wat hierdie jaar Die Kruistog bywoon gaan ‘n unieke ervaring kry van wat die werklike betekenis van Paasfees is. Uitbeeldings uit die lewe en bediening van Jesus sal na gelang van die roete gesien kan word.
Daar sal onder andere voorstelllings wees van die gelykenisse van die verdroogde vyeboom en die Goeie Herder wat sy skape oppas.

Boere rondom Vredefort stuur hulle sleepwaens dorp toe sodat die verskillende stasies langs die roete op die waens uitgebeeld kan word, en dit duidelik sigbaar kan wees tydens die massa-optog.

Mense kan deur die geskeurde voorhangsel van die tempel stap, en ervaar hoe sulke Bybelse gebeure ‘n werklikheid word, terwyl die pragtige note van bekende Paasliedere die atmosfeer vul.

Hierdie jaar se vlot is ‘n uitbeelding van die leë grafkelder van Jesus op Opstandingsondag.

Beide die groot wit Kruis-vlot van 2022 en die nuwe vlot sal deur trekkers aan die voorpunt van die konvooi gesleep word. Die engele, die Romeinse wagte, die vroue en dissipels by die graf word alles kleurryk uitgebeeld terwyl die goeie nuus: “JESUS LEEF!” aan die kante van die vlot uitbasuin word, sê Juan.

Vir hierdie vlot vou Vredefort se mense omtrent 35 000 blommetjies, en die ka- rakters sal uitgebeeld word deur van die omgewing se jeug.

Die voorprogram van sang en musiek begin om 10:30, terwyl die amptelike opening om 11:00 sal plaasvind.
Die reuse tent wat op die Vredefort sportgronde opgeslaan gaan word, het plek vir 3 000 mense.

Vredefort se eie kunstenaars en sangers gaan die samesang lei, en hulle is baie opgewonde om saam met duisende ander stemme die tent te vul met Paasfees gunstelinge soos “Daar was ‘n houtkruis” en vele ander.

Na die samesang word die Kruistog-visie en reëlings oorgedra waarna daar buite die tent ‘n kruisformasie gedoen gaan word wat uit die lug met ‘n hommeltuig afgeneem sal word.

Daarna vertrek die konvooi vir die 3km sirkelroete deur die dorp.

Die foto is met verlede jaar se Kruistog in Vredefort geneem.

Almal word gevra om kruise saam te bring om te dra op die roete. Daar sal ook kruise uitgedeel word vir mense wat nie het nie.

Vir die ouer garde wat nie kans sien om so ver te stap nie, of wat moeg raak langs die pad, sal daar wildsvoertuie en sleepwaens wees waarop hulle kan ry en so steeds die ervaring kan meemaak.

Terug by die sportterrein sal elkeen ‘n sleutelhouer, asook ‘n nagmaalpakkie ontvang.

Sodra die roete voltooi is, sal almal genooi word om saam nagmaal te gebruik, en daarna word die verrigtinge omstreeks 13:00 afgesluit.

Daar sal ‘n groot aantal kos- en koeldrankstalletjies by die terrein wees, en gratis water langs die roete.
Deelname en ingang by die Kruistog is GRATIS, en almal is welkom.

Daar is ‘n beperkte aantal stoele binne die tent, maar bring gerus jou eie kampstoele saam indien moontlik.

Daar sal ook ‘n stalletjie wees wat spesiale Kruistog T-hemde verkoop. Mense wat vooraf vir hulle T-hemde wil aankoop om by die Kruistog te dra, kan (056) 811 2508 skakel vir meer besonderhede.

Vir navrae oor die Kruistog, besoek gerus die webblad www.kruistog.co.za, of stuur ‘n e-pos na info@kruistog.co.za, of WhatsApp na 079 874 1860.

Die Kruistog is ‘n projek van die gemeenskap van Vredefort.

Related Articles

Back to top button