Local news

“My lewe is van my gesteel”

Meer as 'n jaar na 'n motorfietsongeluk sukkel 'n jong ma van drie steeds om te herstel en haar onafhanklikheid terug te kry, na maande in die hospitaal.

‘n Jaar en drie maande het verloop sedert Willemien Landman (45) op haar bromponie op die h/v Wes- en Derdelaan raakgery is. ‘n Rit wat haar lewe handomkeer verander het, want sedert daardie dag in Desember 2021, is haar onafhanklikheid van haar gesteel, en sal sy nooit weer die luukse hĂȘ om enige paar mooi skoene op ‘n winkelrak te kan dra nie.

Dag na dag betaal sy die prys van die maande wat sy in die hospitaal was, en staan die onsekerheid van wanneer sy ‘n heupvervanging sal kry steeds tussen haar en ‘n kans om weer normaal te kan beweeg en te werk. Die dag van haar ongeluk was haar dag af. ‘n Hele naweek was beplan wat sy tyd saam met haar kinders sou spandeer. Maar sy moes eers ‘n verwysingsbrief by die Parys-hospitaal gaan oplaai. En toe gebeur die ongeluk. Haar bobeen, pelvis en knieskyf is in die ongeluk gebreek en sy is na die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad oorgeplaas. ‘n Hospitaalbed waar sy vir twee maande gelĂȘ het voordat sy die eerste keer geopereer is.

Maar die breuk aan haar been kon nie herstel word nie, omdat die regte grootte prostese nie by die staatshospitaal beskikbaar was nie. Daarna het verskoning op verskoning gevolg wat verhinder het dat sy weer geopereer kon word. Elke keer is sy voorberei vir die teater, maar moes sy hoor dat die operasie telkens op die nippertjie uitgestel is. Sy het infeksie in haar wond gekry, en toe het die stryd begin om elke keer die wond in die teater skoon te maak. Later was daar selfs sprake dat haar been geamputeer sou word.
Vergeefs is probeer om haar van die Boitumelo-hospitaal na ‘n Bloemfonteinse hospitaal oorgeplaas te kry sodat sy die mediese sorg kon kry wat sy nodig gehad het.

Maar vir hierdie enkelma was opgee nie ‘n opsie nie. Haar onwrikbare wil om weer te kan loop en by haar kinders te wees, het haar gedra in die alleen maande van ontnugtering en loutere hel waardeur sy moes gaan. Toe sy uiteindelik danksy die ingryping van ‘n professor van die Universitas-hospitaal van Boitumelo na Pelenomi met beentraksie en ‘n septiese oop wond oorgeplaas is, moes sy vir twee dae op ‘n matras in die gang lĂȘ. Daar was nie beddens beskikbaar nie.

Weer was dit die lang wag om teater toe te kon gaan en moes haar femur-kop uiteindelik afgesny word weens die skade van die infeksie. Twee weke nadat sy in Pelenomi-hospitaal opgeneem is, is Willemien uiteindelik na Universitas oorgeplaas.

Dit is hier waar sy vir die eerste keer sedert die ongeluk uit haar hospitaalbed gehelp is om in ‘n stoel te sit. Waar sy met fisioterapie gehelp is om ‘n mate van mobiliteit te kry, en sy begin Augustus 2022 haar eerste tree kon gee sodat sy vir drie weke kon huis toe kom. Die eerste keer in nege maande wat sy by haar kinders kon wees.

Maar ook die eerste keer dat sy die volle omvang van die skade aan haar been moes hoor. Dit was grotendeels te wyte aan die langdurige infeksie en herhaaldelike skoonmaak van die wond, en behandeling wat ver te kort geskiet het vir wat sy nodig gehad het. Van haar beenspiere is afgesny en haar regterbeen is nou sowat 10cm korter as haar linkerbeen.

Sedertdien gaan sy maand vir maand terug na die Pelenomi-hospitaal in die hoop op ‘n heupvervanging maar telkens word sy huis toe gestuur.
“Dit is vir my bitter. Ek gaan nooit weer wees wat ek was nie,” sĂȘ Willemien met die pyn in haar oĂ«. Sy kan nie lank staan nie, ook nie loop nie.

Dit nadat daar aanvanklik na die ongeluk net skroewe en ‘n prostese ingesit sou word.

“Maar ek moet hierdeur,” sĂȘ Willemien, “vir my kinders.”

Daar is sedert dien vir haar ‘n paar tekkies opgebou, maar sonder die heupvervanging kan sy steeds nie lank op haar voete wees nie. Niemand het antwoorde nie.
Daar was dae wat sy gewonder het of dit die moeite werd was om aan te gaan. Maar in die swaar en seer van die maande wat verby is, is daar ‘n verhaal van hande van liefde wat haar telkens opgetel het as sy nie meer kon nie. Wat onbaatsugtig en sonder ophou gehelp, versorg en voorsien het. Mense wat steeds probeer help. Maar die dag tot dag benodigdhede van ‘n gesin om kos op die tafel te hĂȘ, bly vir Willemien ‘n groot bekommernis, al het sy sedertdien daarin kon slaag om ‘n Sassa-toelaag te kon kry tot die einde van die jaar.

Mense wat na Willemien wil uitreik kan haar by 068 148 0635 skakel.

Related Articles

Back to top button