Local news

Liesbet laat die skaal kreun

Meyerton se pampoenkoning wen weer met 890kg Liesbet

Wykus Lamprecht van Golfpark in Meyerton het vir die derde agtereenvolgende jaar die Goliat van Gat Pampoenfees in Silverton, Pretoria gewen.

*Die storie het in die gedrukte weegawe van Vaalweekblad 15 Maart 2023 verskyn.

MEYERTON. – “Om ’n pampoen te groei is nie ‘n resies nie. Dit is ‘n marathon. Jy moet baie geduld hê.”

Só vertel Wykus Lamprecht, Meyerton se pampoenkoning, wat Saterdag die Goliat van Gat Pampoenfees in Silverton, Pretoria vir die derde agtereenvolgende jaar gewen het.

Wykus se reusepampoen, Liesbet, het die skaal op ’n indrukwekkende 890kg laat kreun en hy het met dié pampoen ook ’n nuwe rekord by die Goliat van Gat Pampoenfees opgestel.

Wykus Lamprecht met sy wenpampoen Liesbet in sy agterplaas voordat die pampoen geoes is. Foto: Christiaan Cloete

Die pampoen is vernoem na Liesbet Kukulu Zulu wat gehelp het om vir Wykus groot te maak.

“Van kleins af het Liesbet my op haar rug gedra en ons het saam spinasie geplant. Hierdie is om eer te betoon aan Liesbet,” sê Wykus.

Die pampoen is in Wykus se agterplaas in Bloekomstraat in Golfpark, Meyerton gekweek en het ongeveer 170 dae geneem om te groei.

Wykus se agterplaas is ingerig met sproeiers om die plante nat te hou, waaiers om die pampoene droog te hou en ’n geslotekringtelevisiekamera waarmee Wykus ‘n fyn oog oor sy “agterplaaskinders” kan hou, selfs wanneer hy by die werk is.

Die pampoen is op ‘n sleepwa gelaai en na Silverton in Pretoria geneem waar dit geweeg is. Foto: Facebook

Wykus werk bedags as elektromeganikus by ArcelorMittal, maar sy ma het gehelp om na die pampoen te kyk wanneer hy by die werk is.

Toe Wykus verlede week afmetings geneem het voor die pampoenfees het hy vir seker geweet dat die pampoen groter was as enige van sy vorige pampoene.

Hy was egter nie seker of die pampoen swaarder sou weeg nie.

“Jy kry groot pampoene met dik wande en groot pampoene met dun wande. Net die skaal kan op die einde van die dag vir jou sê hoeveel die pampoen weeg,” het Wykus aan Vaalweekblad gesê voor die pampoen geweeg is.

Die pampoen is op Saterdagmiddag 11 Maart 2023 geweeg en het nie teleurgestel nie.

Liesbet het die skaal op ‘n allemintige 890kg laat kreun. Wykus het die gewig van verlede jaar se wenpampoen, sowel as sy wildste verwagtinge oortref.

In 2021 het Wykus vir die eerste keer die Goliat van Gat-pampoenfees gewen. Sy pampoen Johanna het daardie jaar die skaal op 790kg laat kreun.

In 2022 het hy voortgebou op die vorige jaar se sukses met Barbie, ’n pampoen wat 846kg geweeg het.

Liesbet in Desember 2022, net voor Kersfees, toe sy nog klein was. Foto: Facebook

Die wêreldrekord vir die grootste pampoen word volgens die Guiness World Records gehou deur Stefano Cutrupi van Italië wat twee jaar gelede ’n pampoen van 1 226kg gekweek het.

Wykus sê die pampoen het vir hom die afgelope paar maande voor die pampoenfees slapelose nagte gegee.

Hy het byvoorbeeld gedroom hoe die pampoen val en in stukkies breek en hoe die pampoen van al die reën oopbars en daar is niks binne die pampoen nie.

Gelukkig het alles toe goed uitgewerk. Die pampoen is op Saterdag 11 Maart met behulp van spesiale toerusting op ‘n sleepwa gelaai en na Silverton aangery.

Die pampoen is na die kompetisie opgesny en gebruik om minderbevoorregte kinders te voed.

Die Goliat van Gat Pampoenfees word jaarliks deur die Cullinan Boereunie, wat by TLU SA geaffilieer is, gereël en vind by die Boeremark in Silverton plaas. Die kompetisie is in 2004 as ‘n fondsinsamelingsprojek begin.

Die pampoen word stukkend gesny om honger mense te voed. Foto: Facebook
Die pampoen word verwerk. Foto: Facebook

https://vaalweekblad.com/158502/meyerton-se-pampoenkoning-wen-weer-met-890kg-liesbet/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button