Local news

Nuwe waghonde vind ’n huis by die Voortrekkermonument

Vier Boerboele, twee Beeshonde, twee langbeen Foxterriers en vier Duitse Herdershonde gaan ook eersdaags hul plekke by die VTM inneem.

Die Voortrekkermonument (VTM) het in Maart ’n projek aangepak om nuwe waghonde op
die terrein te kry. Die eerste van dié honde het vandeesweek amptelik by die terrein aangekom en is reeds
tuis by sy nuwe familie – ’n Anatoliese herdershond, Faan.
Die VTM het op 17 Maart die eerste keer uitgereik na die publiek om hul by te staan met
skenkings van jong, gesonde honde. Na skaars ’n week het talle mense ingespring
en gesorg dat 13 nuwe honde op die monumentterrein gehuisves sal word.

Die Anatoliese herdershond, Faan.

Henk Marais, bedryfshoof van die Voortrekkermonument sê hy is baie dankbaar vir hierdie
skenkings. “Hierdie projek wat ons geloods het, is weereens ’n bewys van hoe die gemeenskap wil help, en wíl betrokke
raak by die bewaring van ons erfenis en ons erfenisterreine,” het hy gesê.
“Ons is baie dankbaar vir elkeen wat aan ons ’n hond geskenk het.”
Die idee vir hierdie inisiatief het gespruit uit staaltjies en vertellings uit die verlede van
honde wat die Voortrekkers tydens die Groot Trek bygestaan het.
In Louis Trichardt se dagboek  skryf hy van ’n hond wat ’n rietbok kon plattrek, en in Susanna Smit se dagboekinskrywings verwys sy na ’n geval waar blaffende honde hul trekgeselskap vroegtydig kon waarsku van ’n naderende Zoeloe-aanval.
Die VTM stel die veiligheid van hul besoekers hoog op prys en daarom het dié erfenisterrein
besluit om vanjaar hul sekuriteit op te skerp deur die aanwend van veldfietse én honde.
Wilmari van Wyk wat self vier Duitse herdershonde geskenk het, sê dit is vir haar belangrik om terug te ploeg in die gemeenskap en by die monument, en daarom het sy besluit om dié skenking te maak.
“Ek het besluit om honde te skenk, nie net omdat ek besef hoe ’n groot uitgawe dit kan wees nie, maar omdat dit belangrik is vir my om my deel te doen om ons monumente en ons erfenis te beskerm,” het sy gesê.
Vier Boerboele, twee Beeshonde, twee langbeen Foxterriers en vier Duitse Herdershonde
gaan ook eersdaags hul plekke by die VTM inneem.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button