Local news

So ‘n ‘verwelkoming’ het die inbreker nie verwag nie

Hy het hom behoorlik met die huiseienaar en die polisie misreken

‘n Vermeende inbreker wat vanoggend net na 04:00 in ‘n huis in President Brandstraat betrap is, het sleg tweede gekom na ‘n struweling met die huiseienaar, en toe boonop ook nie kon slaag om die polisie en sekuriteitsbeamptes se wakker oë te ontvlug wat op sy spoor gebly het tot hy gearresteer is.

Jenny Coetsee vertel dat haar jongste in die oggendure by hulle in die bed kom inkruip het, Met dié het haar man, Neil, opgestaan om sy selfoon te gaan haal. Die selfoon was egter nie waar hy dit gelaat het om die nag te laai nie. Ook die skootrekenaaar wat by die selfoon was, was weg. Toe hy die lig aanskakel sien hy dat die diefwering van ‘n venster van die vertrek gebuig is.

Hy is toe na die sitkamer wat reg oorkant die vertrek is, waar ‘n niksvermoedende Niel hom vasgeloop het in die inbreker se mokerhou. Hy het Neil op die mond geslaan en het Neil terugbaklei. In die struweling wat gevolg het deur die huis se vertrekke tussen Neil en die inbreker, het Jenny Niel hoor roep, en die polisie en Security Master geskakel.

Sy het ook die knopkierie gegyp wat langs hul bed was, en die inbreker op sy bene geslaan, terwyl Neil die man tot by die waskamer probeer kry het met die gedagte om hom daar toe te sluit. Voor hy egter daarin kon slaag, het die man die waskamer se venster gebreek en die hasepad gevat.

Die polisie en sekuriteit wat blitsig reageer het op Jenny se oproep, was toe reeds op die toneel en het sy spoor gevolg waar hy deur drie erwe beweeg het en uiteindelik in ‘n vierde erf in Conroystraat vasgetrek is. Die man het ‘n sak by hom gehad met allerlei gereedskap waarop beslag gelê is.

Die hardeskyf, skootrekenaar en selfoon wat hy by die Coetsees gevat het, is alles deur die polisie aan die gesin terugbesorg. Net die selfoon het skade gekry  in die struweling en jaagtog om die man gevang te kry.

Die polisie kry dikwels kritiek, maar dié voorval het weer gewys daar is beslis polisielede wat hul werk met trots doen en  ‘n pluimpie verdien vir die werk wat dikwels onder moeilike omstandighede gedoen word.

President Brandstraat was vanoggend in rep en roer met dié inbraak, maar een ding is seker – hier het hy homself behoorlik vasgeloop in die gereg en bure wat mekaar se oë en ore is.

  • Neil en Jenny sê baie dankie vir die polisie en Fanie van Security Master vir hul vinnige reaksie om te help.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button