Local news

Motorfietsryer bots met stilstaande voertuig

’n Restauranteienaar van Vereeniging is ernstig beseer toe hy met sy motorfiets in ‘n stilstaande voertuig vasgery het.

VEREENIGING. – “Ons glo en vertrou die Here sal hom daardeur lei. Stephan is ‘n vegter en ons glo God sal hom bewaar en daardeur bring, want God is groot.”

Só sê me. Irene Bosch (50), die ma van Stephan Bosch (33), wat tans in ‘n medies-geïnduseerde koma in die Netcare Alberton Hospitaal is nadat hy sowat drie weke gelede in ‘n ernstige ongeluk beseer is.

Stephan se splinternuwe Suzuki Hayabusa-motorfiets na die ongeluk. Foto: Verskaf

Stephan, mede-eienaar van Herkies Pub & Grill in Gardnerstraat, Risiville en Herkies Pub & Grill 2.0 in Unitaspark, was Vrydagaand, 24 Februarie met sy Hayabusa-motorfiets van sy een restaurant in Unitaspark na sy ander een in Risiville onderweg toe hy met ‘n stilstaande voertuig, wat glo sonder ligte en noodligte in die middel van die pad gestaan het, gebots het.

Die ongeluk het omstreeks 22:45 gebeur. Volgens Stephan se suster, Leoné Campher, wat later die aand by die toneel opgedaag het, behoort die voertuig aan ‘n sekuriteitsmaatskappy.

Die voertuig het blybaar voor die ongeluk onklaar geraak en die bestuurder was per voet op pad na ‘n nabygeleë vulstasie toe Stephan van agter in die stilstaande voertuig vasgery het.

Die voertuig het blykbaar in die middel van die pad gestaan sonder noodligte. Foto: Verskaf

Stephan is die betrokke aand deur ‘n drywer vergesel wat in ‘n motor agter hom gery het. “Die drywer wat die personeel kom haal het, het vir my gesê toe hy oor die brug kom, het hy gesien hoe Stephan die voertuig tref. Dit was te laat vir Stephan om uit te swaai,” vertel Leoné.

Stephan het veelvuldige beserings opgedoen en is na die parkeerterrein van die Midvaal Privaat Hospitaal in Vereeniging, waar hy per helikopter na die hospitaal in Alberton geneem is.

“Albei sy arms is gebreek. Sy arms en skouers is klaar met plate geheg. Sy kakebeen is af. Hulle opereer hom Woensdag, 8 Maart weer om plate aan sy kakebeen te sit en opereer ook op sy tragea.

Stephan Bosch is in ‘n hospitaal in Alberton. Foto: Verskaf

“Hulle het Saterdag, 4 Maart ‘n CT-skandering gedoen en gevind dat die swelling op sy brein aansienlik gesak het,” sê Irene oor haar seun se toestand.

“Hy is steeds op ‘n ventilator en onder sedasie,” sê sy.

Stephan het Dinsdag, 7 Maart verjaar. Hy het 33 jaar oud geword.

Stephan het ‘n vrou en drie kinders van onderskeidelik 12, 8, en 5. Sy vrou, Amore Bosch (32) besoek sedert die ongeluk haar man elke dag in die hospitaal in Alberton.

Stephan het die motorfiets glo sowat drie weke gelede gekoop.

Stephan Bosch by sy Suzuki Hyabusa-supermotorfiets. Foto: Facebook

Irene sê sy is baie dankbaar vir familie en vriende se bystand en gebede en sê sy waardeer dit opreg.

Sy het ook haar dank teenoor Hansie Coetzee, mede-eienaar van Herkies Pub and Grill uitgespreek wat tans onder groot druk gebuk gaan om die twee restaurante te bestuur.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button