Local news

Aangepaste begroting voorwaardelik aangepas

Kundiges adviseer tans die munisipaliteit in 'n poging om alle elektrisiteitstariewe te hersien om juis hierdie probleme die hoof te probeer bied vir wanneer die munisipaliteit in Julie vanjaar moet aansoek doen vir vasstelling van tariewe deur NERSA vir die volgende boekjaar.

Die Ngwathe munisipale raad het by ‘n spesiale sitting op 27 Februarie ‘n aanpassingsbegroting voorwaardelik aanvaar. Wetgewing verplig munisipaliteite om hul begrotings halfjaarliks te hersien en aanpassings te maak.
Daar moet onder andere nou besin word of begrote inkomste realiseer, en of uitgawes binne begrote perke is.
Munisipaliteite mag nie vir tekorte begroot tensy ‘n onbefondsde begroting vergesel word van ‘n aanvaarbare befondsingsplan nie.
In Ngwathe se geval beloop begrote operasionele inkomste R937 015 000,00 terwyl uitgawes beraam word op R1 012 417 000,00 wat ‘n tekort laat van R75 403 000,00.
“Tans, gegewe Ngwathe se benarde finansiële posisie as gevolg van grootskaalse wanbetaling van dienstegelde, is ‘n befondsde begroting eenvoudig nie haalbaar nie,” het Vryheidsfront Plus raadslid, Phillip van der Merwe, in sy kommenaar gesê.
Die munisipale raad het opdrag gegee dat ‘n befondsingsplan dringend deur die finansiële komitee saamgestel en aan die raad voorgelê word vir oorweging. Daar is ook gevra dat die implementering van die finansiële omkeerplan wat die raad reeds goedgekeur het, dringend geëskaleer word om realisering van begrote inkomste daar te stel.
Een van die probleme wat met realisering van inkomste gesien word is verskille tussen tariewe wat die Elektrisiteitsreguleerder (NERSA) vir Eskom aan die een kant, en munisipaliteite aan die ander kant, goedkeur. Eskom tariewe maak byvoorbeeld voorsiening vir hoër pryse vir krag in wintermaande, wanneer verbruik juis op die hoogste is, terwyl die munisipaliteit self nie gemagtig is om hoër wintertariewe te hef nie.
Die feit dat Eskom en die munisipaliteit se boekjare ook nie ooreenstem nie veroorsaak verdere tekorte.
Eskom is onlangs ‘n groot verhoging in tariewe deur NERSA toegestaan met effek van 1 April 2023, maar die munisipaliteit kan sy eie tariewe eers van 1 Julie 2023 aanpas en moet intussen die verhoging self absorbeer, wat natuurlik meebring dat ‘n verdere verlies in effek deur die munisipaliteit gelei word gedurende die maande April, Mei en Junie 2023.
Kundiges adviseer tans die munisipaliteit in ‘n poging om alle elektrisiteitstariewe te hersien om juis hierdie probleme die hoof te probeer bied vir wanneer die munisipaliteit in Julie vanjaar moet aansoek doen vir vasstelling van tariewe deur NERSA vir die volgende boekjaar.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button