Local news

Vredefort se wateraanleg pomp na 17 dae vloed-droogte in krane

Na 17 dae dae sonder ‘n druppel water in die krane, sou Vredefort en Mokwallo se inwoners einde ten laas dié week water kry, is by navraag Maandag aan Gazette gesê. Die dorp se watersuiweringsaanleg het die afgelope net meer as twee weke gestaan omdat water nie na die aanleg gepomp kon word nie. Die …

Na 17 dae dae sonder ‘n druppel water in die krane, sou Vredefort en Mokwallo se inwoners einde ten laas dié week water kry, is by navraag Maandag aan Gazette gesê.
Die dorp se watersuiweringsaanleg het die afgelope net meer as twee weke gestaan omdat water nie na die aanleg gepomp kon word nie.
Die pomp waarmee water uit die Vaalrivier onttrek word, het skade gekry met die vloed. Die skade kon eers bepaal word nadat die rivier se watervlak begin sak het, het die kantoor van die Ngwathe uitvoerende burgemeester, verlede week bevestig. Daar is ook gesê dat die skade sodanig was dat die pomp vervang moes word. Ngwathe se munisipale bestuurder, Nonhlanhla Baleni, het Maandag by navraag gesê die pomp is Sondag, 5 Maart ingesit, en dat die aanleg weer kon begin water suiwer.
Die watertekort het egter ‘n bitter smaak by baie inwoners gelaat wat sê dat die munisipaliteit nie voldoende met inwoners gekommunikeer het oor wat die situasie by die suiweringsaanleg was nie. Die beskikbare watertenkwaens was nie genoeg om te kon voorsien in die dorp se waternood nie. Mense het daagliks in lang toue by die dorpsbiblioteek gewag met waterkanne om water by die munisipale boorgat te kry, maar hier kon ook nie voorgebly word om water vir mense te gee nie.
Terwyl een van die boere in die distrik vir ‘n week lank daagliks water ingery het vir die dorp se inwoners, het nog ‘n boer met wie Gazette gesels het, gesê dat boere reeds agteroor buig om te help en nie nog kan bekostig om die elektrisiteits- en brandstof- koste te dra om water te pomp en aan te ry vir ‘n hele dorp nie. Hy sê boere onderhou reeds op eie koste die Greenlands-pad, en kos dit fyn beplanning net om water gepomp te kry vir vee, tussendeur beurtkrag.
Weldoeners het oor die naweek ingespring om te help by die Vredefort Hartshuis om net van die linne en klere van van die sorgafhanklike inwoners te was.
Twee Parysenaars, Wendy Nothnagel en Petro van Vuuren, het van Parys gery om bondels linne, handdoeke en komberse van die Hartshuis se sorgsentrum te gaan haal en te was. “‘n Groot blessing,” het Zuane van der Merwe, eienaar van die Hartshuis, oor die naweek gesê nadat daar vroeër al van die besmeerde klere, lakens en komberse weggegooi moes word, omdat dit nie higiënies was om dit so te laat lê sonder om te weet wanneer daar weer water in die krane sal wees om te was nie, het Zuanne gesê.

Sy het oor die naweek gesê die situasie is benard, maar dat sy bitter dankbaar is vir mense uit die gemeenskap wat die Hartshuis die afgelope twee weke met water gehelp het. Twee inwoners het boorgatwater vir drinkwater aan die Hartshuis voorsien, terwyl een van die boere gehelp het om die Hartshuis se watertenks elke tweede dag vol te hou vir toilette om te kon spoel. Die wasgoed – veral die bondels linne – was egter ‘n groot kopseer en was die vroue van Parys wat gehelp het met die wasgoed ‘n groot uitkoms in nood. Soos Parys, is Vredefort se waterprobleme nie nuut nie, en het ‘n inwoner wat nie sy naam genoem wou hê nie, gesê dat daar al vir die afgelope twee jaar gesukkel word met water in die dorp. Hy sê die Mokwallo-woonbuurt sukkel selfs langer al met water. In die afgelope twee weke moes hy sy swembad leeg tap net om water te kon hê. “Elke keer as jy vra is daar net ‘n ander verskoning,” sê hy.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button