Visserman ongedeerd na urelange ontbering
Die span verdien net die hoogste lof vir die urelange reddingsoperasie wat deurgevoer is ten spyte van moeilike omstandighede waartydens hulle hul lewens op die spel geplaas het om die man te red.

‘n Man van Schonkenville is Saterdagaand na ‘n urelange reddingsoperasie in die donker uit die Vaalrivier naby River Rock gered. Dit het gevolg nadat mense by dié oord teen laatmiddag die man se noodkrete gehoor en hulp ontbied het.
Die man is die oggend met sy visstok en kano die rivier in om vis te vang.
Sy kano het in die sterk stroom omgeslaan en hy kon dit net maak tot by ‘n klipperige gedeelte waar hy verbete aan ‘n boom vasgeklou en om hulp geskree het.
Toe die noodoproep deurkom, is a.o. Holtzhausen van die polisie se Soek- en Reddingseenheid in Sasolburg, lede van Parys-polisie, Pieter Kemp, Parys Medix en WeCare vrywilligers binne minute na die toneel waar a.o. Holtzhausen om beweeg en van die Sandgat-kant in Rotarylaan stroomaf begin soek het.
Hy het die man gekry en probeer om na hom toe te swem, maar die stroom was té sterk.
Charl de Bruyn het by a.o. Holtzhausen aangesluit, en is besluit om die hulp van nog ervare witwaterroeiers te kry. Hugh du Preez en sy seun is daarna saam met Charl met twee kano’s die rivier in, terwyl a.o. Holtzhausen aan die Vrystaat-oewer regoor die man in ‘n boom bly sit en gewag het tot die roeiers in sig was.
Hy kon hulle na die man beduie, en het hulle hom veilig en ongedeerd sowat 400 m stroomaf gebring tot by die oewer by River Rock, waar hy deur personeel van Parys Medics ondersoek en na die Parys Distrik-hospitaal geneem is.






