Local news

Vrou verloor alles in vloed

“Daar was niks om te red nie. Alles wat vir my belangrik en sentimenteel was, het weggespoel. Dit was my veilige tuiste en nou voel ek dood binne."

Shirlene Vermaak se veilige tuiste het in ‘n oogwink in ‘n nat nagmerrie verander toe die onlangse vloede haar hele huis en erf op New Machavie by Tim’s Haven, sowat 30 kilometer buite Potchefstroom, vernietig het.

“Daar was niks om te red nie. Alles wat vir my belangrik en sentimenteel was, het weggespoel. Dit was my veilige tuiste en nou voel ek dood binne. Ek is platgeslaan.”

Shirlene Vermaak is platgeslaan na haar huis oorspoel het na ‘n vloed. Foto: Cornelia Hitge.

So vertel Shirlene wat tot by haar enkels in dik, grys modder staan, oor die diepe hartseer en skok wat sy beleef nadat sy alles in die watermassa verloor het. Haar huis wat teen die Vaalrivier gebou is, het oor die naweek van 17- 18 Februarie heeltemal oorstroom.

Die vloed het haar met net die klere aan haar lyf, ‘n oornagsak met benodigdhede en haar twee poedels gelaat. Sy het toe by bure gaan bly, wie se huis op ‘n hoër oppervlak gebou is.

Shirlene wys hoe die water haar kas binnegedring het. Foto: Cornelia Hitge.
Shirlene Vermaak is verpletter nadat sy tydens ‘n vloed alles in haar huis verloor het. Foto: Cornelia Hitge.

“Die rivier het Vrydag al begin opstoot, maar ons is te laat gewaarsku en alles het baie vinnig gebeur. Die sluise wat oopgemaak is het die water vinniger laat opstoot en in ‘n kwessie van ‘n uur en ‘n half moes ons planne maak om te ontruim. Teen Saterdagaand moes ek net die noodsaaklike vat. ‘n Mens dink jy is voorbereid vir so ‘n situasie, maar mens wil alles saamvat wat belangrik is,” vertel Shirlene, wat alleen in haar huis woon.

Die rivierwater het verder begin opstoot en teen Sondag, 19 Februarie was alles oorspoel. ‘n Week later toe die water begin sak het, het Shirlene se gemoed in die modder gesink toe sy uiteindelik kon terugkeer na haar huis om te kyk wat te redde is.

“Ek het nie verwag dit gaan so erg lyk nie. Al my boeke en sentimentele items is daarmee heen. Ek weet nie eers of dit die moeite werd is om van die klere en lakens te was nie,” sê sy terwyl haar oë opwel.

Shirlene vertel dat die water omtrent tot by die dak binne die huis was en haar meubels totaal en al deurdrenk het. Die rivierwater het ook ‘n modderige spul in en om die huis gelos wat nog skoongemaak moet word om die werklike skade te bereken.

“Ek het ook nie versekering nie, so op hierdie stadium sal ek nie alles kan vervang nie. Ek sal heeltemal van voor af moet begin,” meen sy. Shirlene werk by Keystone Radiology, en noem dat haar kollega, Jana Fick, tans vir haar blyplek gee en haar in hierdie moeilike tyd ondersteun. “Ek kry baie ondersteuning van die werk af en vir mense soos Jana kan ek nie genoeg dankie sê nie. Sy het haar huis vir my oopgemaak in my tyd van nood.”

Shirlene Vermaak se erf is vol modder na die vloed.

Nog ‘n lang proses lê voor vir Shirlene wat nie tans weet of sy weer wil terugkeer na ‘n huis waar herinneringe nou in watermassas verdrink het nie.

“Ek voel stukkend omdat my hele lewe weggespoel het. Dit maak my wel baie nederig om te weet dat soveel mense daar is vir my wanneer ek hulle die nodigste het.”

Shirlene kan by 082 904 0202 of by Shirlenejv@gmail.com gekontak word om haar in haar nood by te staan

Related Articles

Back to top button