Local news

Vloedverwoesting: Enorme skade vir Parys

Totale omvang van skade kan steeds nie bereken word nie.

Presies ‘n week nadat Parysenaars die vloedwater oor verskeie strate in die dorp langs die rivieroewer sien stroom het, en  eiendom, paaie en laagwaterbrue in en om Parys onder water was,  is  skade van die Vaal se verwoestingspad oral sigbaar noudat die water begin sak.

Talle mense het vandag in verbasing gestaan oor die skade wat deur die vloedwater aan die teerpad na die Parys Golf & Country Estate aangerig is. Die teer is weggekalwe en lê water en slik nog op die grasperk by die laagwaterbrug. Ook in Esplenade is ernstige skade aan die teerpad.

Teen vanmiddag, Sondag 26 Februarie het water nog gestroom oor die laagwaterbruggie na die Parys Golf & Country Estate waar stompe teen die brug vasgespoel het. Die presiese omvang van die skade aan die brug en pypnetwerke kan nog nie met sekerheid bepaal word totdat die stompe verwyder is en daar nie meer water op die brug is nie.

Groot skade is  hier by die pad na die laagwaterbrug na die Parys Golf & Country Estate aangerig en is daar steeds water wat oor die pad stroom met baie stompe wat hier vasgespoel het

Groot skade is ook deur die vloedwater aan die pad in Esplenade aangerig. 

In Fickstraat is ‘n omheiningsmuur plat gevee deur die vloedwater en het ‘n lapa steeds by een van die huise in die water gestaan.

Kragtoevoer na die Parys Golf & Country Estate is nog nie met die skryf van hierdie berig herstel nie, met ernstige skade wat aan die kragnetwerk aangerig is deur die vloedwater. Daar is sedert Vrydag hard gewerk om ‘n nuwe kraglyn te bou nadat die rivier se watervlak begin sak het, maar was dele waar gewerk moes word steeds baie nat vandag wat toegang vir masjienerie en toerusting wat nodig is  ernstig bemoeilik het.

Die foto is vanoggend geneem langs die R59 waar gewerk is aan die nuwe kraglyn na die Parys Golf & Country Estate.

Met sewe sluise wat steeds oop is by Vaaldam en die rivier se watervlak wat steeds hoog is, sal dit nog tyd neem alvorens ‘n totale berekening van skade gemaak kan word, veral by  oorde buite Parys aan die rivieroewer, asook op die Parys Golf & Country Estate en Vaal de Grace landgoed.

 

Related Articles

Back to top button