Local news

Parys-straatmyl lewer “droommyl” en kookwater atletiekaksie op

Dit was 'n atletiekskouspel soos wat die dorp van Parys nog nooit vantevore gesien het nie!

PARYS. – Van die beste middelafstandatlete in die land het dit Woensdagmiddag (15 Februarie 2023) ten aanskoue van toeskouers in die dorp se hoofstraat teen mekaar uitgespook tydens die eerste Parys Crater Straatmyl.

Shadrack Hoff (Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 5km, 10km 15km), Edward Mothibi (wenner van die Comrades-ultramarathon van 2019), Nkosinathi Sibiya (viermalige Suid-Afrikaans 1500 m-kampioen) Niel van der Merwe (Suid-Afrikaanse junior 10km-kampioen en opkomende atletiekster), sowel as die gedugte Phalula-tweeling (Lebogang en Lebo) is van die groot name in Suid-Afrikaanse atletiek wat by die beginpunt in Waterstraat aangetree het.

Klante by restaurante in Breestraat, sowel toeskouers langs Parys se hoofstraat is bederf met kookwater atletiekaksie uit die boonste rakke tydens die 10 wedlope wat vanaf 15:00 plaasgevind het en tot na 18:00 geduur het.

Die geleentheid is deur die Rotariërs van Parys in samewerking met MooiVaal Media, Parys Info & Toerisme, Jammy Jaggers Bar & Grill en Top Carpets & Floors aangebied en kontantpryse ter waarde van R50 000 het gesorg vir ekstra woema op die dag.

Nkosinathi Sibiya en Niel van der Merwe keil mekaar op tydens die elite-manswedloop. Foto: Christiaan Cloete
Shadrack Hoff, Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 5km, 10km en 15km, spook dit uit met die 2019-Comradeswenner, Edward Mothibi, in Parys se hoofstraat. Foto: Christiaan Cloete

In een van die hoogtepunte van die dag het Nkosinathi Sibiya en Niel van der Merwe albei sub 04:00 myle (“doommyle”) gehardloop in die elite-wedloop vir mans. Sibiya het die wedloop gewen nadat hy vir Keanu Domingo teen die afdraande in Breestraat verbygesteek het. Van der Merwe het laat in die wedloop ‘n aanval geloods maar moes tevrede wees met die tweede plek.

Sibiya se amptelike tyd was 03:57.8, met Van der Merwe wat ‘n breukdeel van ‘n sekonde 03:57:9 na hom klaargemaak het. Domingo het die derde plek gevat.

Charné Swart (04:39:9) het koning in die elite-dameswedloop gekraai. Simoné Weitsz was tweede (04:45:0) en Lebogang Phalula (04:54:5) derde.

Related Articles

Back to top button