News

Ai Driehoek, dis steeds seer

Hoërskool Driehoek het 1 Februarie op 'n besondere manier herdenk. Lees meer...

1 Februarie 2019. ‘n Dag van verskrikking, trauma en ongelooflike hartseer.

Die dag waarop ‘n brug by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark ineengestort het. Vier leerlinge het hul lewens verloor.

Die krans in die skool se kleure, langs die klok wat elke matrikulant gelui het.

Royden Olckers (17), Jandré Steyn (13), Marli Currie (13) en Marnus Nagel (16). Talle ander is ernstig beseer.

1 Februarie 2023 staan die graad 8’s van 2019 as matrikulante saam om die dag en hul afgestorwe maats te herdenk.

Vroegoggend is ‘n spesiale diens vir die hele skool in die saal gehou. Pastoor Nico van As het die Woord gebring.

Die personeel almal in swart geklee, die leerlinge doodstil.

Die samehorigheid onder die leerlinge kan duidelik gesien word onder gebed. Die meisies vat dadelik hande. Die seuns omarm mekaar.

Rose vir gestorwe maats.

Na die diens verdaag die leerlinge stil. Die matrikulante verlaat die saal vir ‘n ekstra spesiale seremonie. Dis wat hulle wou hê en self gereël het.

Een vir een lui hul ‘n klok en loop dan oor die nuwe loopbrug en met die trap na onder waar die personeel ‘n erewag gevorm het.

Vlak by die trap is vier boompies geplant ter ere aan Royden, Jandré, Marli en Marnus.

Hier stop die matrikulante. Elkeen sit ‘n roos voor die boompies neer. Dit reën. Soos wat dit daardie oggend ook gereën het.

Uit die vaal mistroostigheid wat die skool omhul, kan daar vir ‘n tyd lank slegs die klok gehoor word.

Skoolhoof, Mnr Ricardo Erasmus buk om ‘n blom wat geval het, by die krans te voeg.

Die somber voetstappe op die brug word verdoof deur die reën wat al hoe harder val.

Tafels met vrolike kolwyntjies in Driehoek se bekende pers en geel kleure bied kleur aan die een kant.

Aan die ander kant ‘n tafel gelaai met sagte speelgoed. Geskenke van die gemeenskap af.

Dan die uitbeweeg na buite. Die reën nou net ‘n ligte vlagie. Asof die groot huil verby is, maar die trane rol steeds.

Van die junior leerlinge omarm mekaar onder gebed tydens die spesiale diens wat gehou is.

Die hoofleiers staan nader met die kleurryke krans wat versigtig by die monument van herinnering in die voortuin geplaas word.

Die skoolhoof, mnr. Ricardo Erasmus, se woorde eggo steeds waar die leerlinge mekaar omhels, trane afvee en saamstaan om die monument.

“Julle het mekaar vir vier jaar gedra tot hier, dra mekaar nou verder.”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button